Ek lees van ’n wyse man wat sê verbeel jou net hoe die lewe sou voel as jy elke mens, elke ding en elke ervaring kon benader asof dit jou beste vriend is wat jy jare laas gesien het. As jou beste vriend ná tien jaar aan jou deur klop, gaan jy nie net skraps opkyk nie, jy gaan hom entoesiasties tegemoet loop. Jy gaan nie spyt wees om hom te sien omdat hy ’n paar ekstra plooie het nie; jy gaan vra dat hy jou vertel watter stories agter al die nuwe krake in sy vel lê.
Onlangs moet ek ’n nuwe teepot gaan koop en ek besluit om op pad winkel toe die wyse man se raad te volg. Die teersypaadjie onder my voete; dis my beste vriend wat ek tien jaar laas gesien het. Hoe voel dit? My ou vriend is vol gate en hobbels; ek verbeel my dat my vriend my voete liggies masseer soos wat ek op hom trap. Dankie, vriend!