’n Swembadpartytjie kort ’n mooi agtergrond. Dis amper somervakansie en nou is die tyd om die area rondom jou swembad om te tower tot iets so reg uit ’n vakansieoord se brosjure.
Daar is talle keuses en style – van die minimalistiese retro-sjiek tuin wat inspirasie put uit Japanse tuinargitektuur, of iets meer inheems en spontaans wat by ’n safari-lodge sal aard.
Maar vergeet van palmbome, vuurblomme (hibiskus) en ander dors uitheemse spesies. Die sogenaamde retro-sjiek-voorkoms, wat inspirasie put uit tuinontwerpneigings uit die 1950’s en 1960’s, is tans hoogmode. Boonop is dit maklik om elemente hiervan aan te pas vir die Suid-Afrikaanse klimaat, veral in streke waar water maar skraps is. Die voorkoms is stylvol, verg min moeite en is boonop ekovriendelik.