’n Man wat weet van mooi borde en bakke is Mervyn Gers, een van ons land se voorste pottebakkers. Mervyn is ’n lieflike, flambojante, kreatiewe en talentvolle mens en hy maak nie net pragtige tafelgerei in sy Kaapse ateljee nie, maar is ook ’n voorslagkok. Sy karaktervolle en eiesoortige keramiekwerk word internasionaal in toprestaurante gebruik en word in luukse winkels soos Harrods in Londen verkoop. Maar kom in sy eetkamer en jy vind Ma Ria Gers se nostalgiese breekgoed trots agter die glas op die buffet uitgestal. Sondagmiddagete by hom bestaan ook nie uit moderne bietjies-kos met tierlantyntjies nie, maar bakke vol boerekos bedien in sy ma se bakke en borde en hier en daar een van sy moderner werke. Manjifiek!
Wanneer ek sê Mervyn maak die lekkerste lamsboud en aartappels wat ek nog in my lewe geëet het, glo my asseblief. Maar laat ek van voor af begin.
Ons het weggeval met ’n glasie vonkelwyn en steak tartare met rou ui op bruschetta met ’n tikseltjie olyfolie en swartpeper. Die steak tartare het Mervyn klaargemaak by Hartlief Deli in Oranjezicht gekoop en dit het robynrooi in een van sy goue borde geskitter.