Maar Ma Babs het elke maand haar beskuitblikke vol gebak met die heerlikste liplekker semelbeskuitvingers. Beskuit was ’n groot gedoente in die Potgieter-kombuis, want agt koppies meel, twee koppies Nutrifix (Nutrific) en een koppie semels is nie vir bakbangbroeke soos ek nie. Pa Coen het die groot emaljeskottel en die spesiale beskuitpanne uit die garage se dak gaan haal en moes ook sy hande gaan skrop, want hulle moes die dag help meng.
Ek het altyd gedog dit is gesond, maar toe ek die resep bestudeer, besef ek dié heerlike bros semelbeskuitvingers is dik van die suiker, botter en olie. Maar is als wat lekker is nie maar altyd vol van kalorie-sondaars nie?
Ma se resep is in haar resepteboek geskryf sonder enige aanwysings – want jy moet mos weet hoe om te bak! Sy het ook twee “klein koppies” suiker gebruik – meet ’n koppie en skud dan so bietjie af.