Sop en brood is ’n kospaar wat ’n groot verantwoordelikheid dra, ’n simbool van sekerheid in onstuimigheid. In hierdie tye van rieme dunner sny, is sop en brood ’n voedsame skans teen die koue.
Die herlewing van broodbak, en veral die artisan-styl sourdough (suurdeeg) wat die versorging van ’n suurdeegplantjie verg, laat 'n mens met nuwe waardering vir die arbeid en toewyding agter ware brood. Geen krummel of korsie word vermors nie, en vindingryke maniere gesoek om die oorskiet te hergebruik.
My ma het altyd vertel van weekbrood, die ou gebruik om ’n sny plaasbrood in die vleispot te week, of die brood in ’n diep bord te skep met ’n lepel van die potsouse bo-oor.