Dié produsente aan’t borrel

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die kurkproppe het behoorlik geskiet op 16 September op die toekenningsgeleentheid van die 2021 Amorim Cap Classique-uitdaging by Tintswalo Atlantic aan die voet van Chapmanspiekrylaan. Dié kompetisie vier nie net vanjaar sy 20ste bestaansjaar nie, maar dit val ook saam met die 50ste herdenking van die eerste Méthode Cap Classique-wyn wat op eie bodem gemaak is. Samantha van den Berg was by die geleentheid. 

Die groot wenwyne op vanjaar se Amorim Cap Classique-uitdaging is die Mariëtte Chardonnay Blanc de Blanc 2015, Graham Beck Pinot Noir Rosé 2017, Kleine Zalze Cap Classique Vintage Brut 2015, die Boschendal Jean le Long Prestige Cuvée 2009 en die Graham Beck Bliss Nectar Rosé (geen oesjaar). Foto’s: VERSKAF

Die bekroonde Stellenbosse wynkelder Kleine Zalze het vanjaar met die louere weggestap as die beste Cap Classique-produsent by die Amorim Cap Classique-uitdaging.

Die Kleine Zalze Cap Clas­sique Vintage Brut 2015 het die beste punt vanuit al 135 inskrywings in die kompetisie behaal, en só gesorg dat die kelder die kategorie vir die beste brut-versnit Cap Classique wen, en sommer ook die prys vir die beste Cap Classique-produsent inoes.

Die Cap Classique-uitdaging word reeds sedert 2002 deur die Portugese kurkreus Amorim Cork aangebied en is die enigste kompetisie wat eksklusief aan Suid-Afrikaanse Cap Classique-wyne erkenning gee. Die kompetisie het vanjaar die meeste inskrywings tot nog toe ontvang, aldus die organiseerders.

Beste demi-sec: Joaquim Sá, uitvoerende hoof van Amorim Cork SA, Pierre de Klerk van Graham Beck Wines en Pieter Ferreira, voorsitter van die Cap Classique-produsentevereniging.

Nóg groot wenners

Benewens die topprodusenteprys wat deur Kleine Zalze opgeraap is, het die kelder Stofberg Family Vineyards in die Breedekloof-wynvallei hom ook vanjaar in die wennerskring bevind vir sy Mariëtte Chardonnay Blanc de Blanc 2015. Dié wyn het die Cap Classique-trofee ontvang vir die beste blanc de blanc in die kompetisie.

Die alombekende Méthode Cap Classique-produsent Graham Beck Wines, van Robertson, is sommer met twee trofeë beloon: Die trofee vir die beste rosé het gegaan aan sy Graham Beck Pinot Noir Rosé 2017, terwyl die Graham Beck Bliss Nectar Rosé (geen oesjaar) met die trofee vir die beste demi-sec vereer is.

Beste brut-versnit en beste produsent: Hier saam met Sá en Ferreira staan (middel) RJ Botha, keldermeester van die Stellenbosse kelder Kleine Zalze.

Die wynlandgoed Boschendal was ook deel van die wen-geselskap en is weer in die kategorie vir die beste museumklas-Cap Classique (toegeken aan ’n wyn van ’n oesjaar agt jaar of ouer) as die algehele wenner aangewys.

Boschendal se Boschendal Jean le Long Prestige Cuvée 2009 het aan dié landgoed die wentrofee besorg.

In syfers

Benewens die bogenoemde trofeë, is daar ook vanjaar een dubbelgoud (93 punte en hoër) en 24 goue medaljes (90 tot 92 punte) toegeken, lui ’n verklaring.

Die kategorie vir brut cap classique het die meeste inskrywings gelok (47), gevolg deur 37 inskrywings vir die blanc de blanc-kategorie. Die kategorie vir rosé Cap Classique het 32 inskrywings ontvang, die demi-sec-klas tien inskrywings en die kategorie vir museumklaswyne nege inskrywings. Besoek capclassique.co.za vir die volledige lys wenners van vanjaar se Amorim Cap Classique-uitdaging.

Beste blanc de blanc: Mariëtte Stofberg-Coetzee van Stofberg Family Vine­yards by Rawsonville ontvang die trofee vir Mariëtte Chardonnay Blanc de Blanc 2015.

Toe tot nou

Volgens Joaquim Sá, uitvoerende hoof van Amorim Cork SA en ’n stigterslid van die Cap Classique-uitdaging, word vanjaar se kompetisie gehou op ’n belangrike tyd in die land se wyngeskiedenis.

Dit is nie net die 20ste bestaansjaar van dié wynkompetisie nie, maar dit val ook saam met die 50ste herdenking van die eerste Cap Classique-wyn wat in 1971 deur wyle Frans Malan van die wynlandgoed Simonsig gemaak is.

“Min ander wynlande, indien enige, kan rekords wys wat die spesifieke jaar aandui waarin een van hul wynkategorieë ontstaan het.

“In Suid-Afrika is ons gelukkig dat ons Cap Classique, die land se aanbieding van vonkelwyne gemaak volgens die tradisionele metode, kan terugdateer tot 1971,” sê hy luidens ’n verklaring.

Beste museumklas-wyn: Danielle Coetsee van die wynlandgoed Boschendal ontvang die trofee vir Boschendal Jean le Long Prestige Cuvée 2009 by Sá en Ferreira.

“In 2021 kan ons dus die begin van Cap Classique as ’n juweel in die Suid-Afrikaanse wynkroon vier, maar ook – deur hierdie kompetisie – die merkwaardige gehalte van die land se Cap Classique-wyne.”

Hy meen dat Suid-Afrika oor die afgelope 50 jaar ’n formidabele reputasie gevestig het vir hierdie vonkelwynstyl – plaaslik, sowel as internasionaal.

“Ek dink dat Frans Malan, die pionier van Cap Classique, uiters ingenome sou wees om te sien hoe die wynkategorie wat hy gestig het, ontwikkel het tot een van die grootste trekpleisters van die Suid-Afrikaanse premiewynsektor.

“Soos die jaarlikse Amorim Cap Classique-uitdaging wys, het die land klein landgoedprodusente tot groot handelsmerk­eienaars wat verbind is tot hierdie wynstyl.

“Die diversiteit van style en uniekheid van die Kaapse wynlande se terroir het gehelp om ’n Cap Classique-aanbieding te verseker wat briljant is in vele opsigte, en dit een van die gewildste wynkategorieë gemaak,” voer hy aan.

“Amorim is besonder trots om geassosieer te word met Cap Classique deur ons verhouding as verskaffers vir diegene wat hierdie wyn maak, asook deur die Cap Classique-uitdaging wat ek glo bygedra het om hierdie styl se opkomende ster helderder as ooit te laat skitter.”

Nóg om te weet

Het jy geweet?

Die Amorim Cap Classique-uitdaging word al sedert 2002 deur die Portugese kurkreus Amorim Cork gehou en is die enigste kompetisie wat eksklusief erkenning aan Cap Classique-wyne op eie bodem gee.

Dié kompetisie het vanjaar altesaam 135 inskrywings gelok – die meeste nog tot dusver in die kompetisie se bestaan. Simonsig was die wenner van die trofee vir die beste produsent op die eerste Amorim Cap Classique-uitdaging 20 jaar gelede.

1971

Die eerste Cap Classique-wyn is in dié jaar gemaak deur die wynlegende wyle Frans Malan, van die wynlandgoed Simonsig naby Stellenbosch.

Die Cap Classique-bedryf op eie bodem vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar terwyl die Amorim Cap Classique-uitdaging vanjaar 20 jaar herdenk.

Die kenners

Die beoordelaars vir vanjaar se Amorim Cap Classique-uitdaging was Heidi Duminy, Kaapse Wynmeester, die wynskrywer Malu Lambert, die wynmakers Pierre de Klerk (Graham Beck) en Nathan Valentine (Villiera) en die wynkonsultant Spencer Fondaumiere.

Kelsey Shungking van Mullineux Wines was die assistentbeoordelaar.

Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
16.27
-1.9%
Rand - Pond
21.71
-0.0%
Rand - Euro
18.42
+0.1%
Rand - Aus dollar
11.59
+0.0%
Rand - Jen
0.14
+0.2%
Goud
1,792.60
0.0%
Silwer
23.13
0.0%
Palladium
1,751.49
0.0%
Platinum
955.50
0.0%
Brent-ruolie
72.72
-11.6%
Top-40
62,411
-2.6%
Alle aandele
68,615
-2.8%
Hulpbronne 10
64,074
-2.5%
Industriële 25
92,909
-1.3%
Finansiële 15
12,995
-6.8%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos