‘Dit is vir ons soos ’n sprokiesverhaal’

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Stellenbosse wynkelder Kleine Zalze staan vandag breëbors nadat hy die afgelope jaar sommer ’n rits groot pryse ingeoes het – waarvan een van die gesogste eerbewyse seker die 2021 Amorim Cap Classique-uitdaging se topprodusenteprys is. Samantha van den Berg het met RJ Botha, Kleine Zalze se kelder­meester, gesels. 

Kleine Zalze vier vanjaar 25 jaar van wynmaak en die span skryf die gehalte van die wyne wat hulle maak toe aan die plaas se unieke en diverse terroir.

Die Kleine Zalze-wynkelder is nie ’n vreemdeling in wennerskringe nie.

Die wynmaakspan daar het nie net onlangs met hul Kleine Zalze Vintage Brut 2015 die beste Cap Classique by die jaarlikse Amorim Cap Classique-uitdaging opgelewer nie, maar ook sommer vir nie een nie, maar twee wenwyne in die Standard Bank Chenin Blanc Toptien-uitdaging gesorg.

Dít alles volg kort op die hakke van die 2021 Shiraz-uitdaging, waar twee Kleine Zalze-wyne – die Family Reserve 2017 en die Vineyard Selection 2018 – onder die top-12 wenwyne getel is.

RJ Botha, Kleine Zalze-keldermeester, klink ’n glasie by Tintswalo Atlantic op hul topprodusenteprys by die Cap Classique-uitdaging.

Ses Kleine Zalze-wyne het vanjaar 90 punte en meer in die negende uitgawe van Tim Atkin MW se Suid-Afrikaanse wynverslag ontvang, terwyl die kelder ook op die 2021 Suid-Afrikaanse Jongwynskou en in die Rosé Rocks-kompetisie uitgeblink het.

Kleine Zalze is daarbenewens verlede jaar as die kelder van die jaar in die 2021 Platter’s-wyngids aangewys, met sewe van sy wyne wat met vyf sterre bekroon is. Dié kelder is ook in Oktober op die Old Mutual-trofee-wynskou aangewys as die suksesvolste produsent.

Pols jy Botha oor die sukses wat die wynkelder oor die jare heen beleef het, sê hy dit getuig van die unieke en diverse terroir van Kleine Zalze as een van die oudste wynplase in daardie gebied, asook die harde werk wat die span daar insit en die wyse waarop hulle met die natuur omgaan.

Kleine Zalze vier vanjaar 25 jaar van wynmaak en volgens Botha het hy en sy span ’n doel voor oë gestel om voort te bou op die laaste paar jaar se sukses en hul beeld as premie-wynprodusent nóg verder te beter.

Laat die prop skiet: Botha maak gereed om ’n bottel Cap Classique op die tradisionele sabrage-metode oop te maak.
Op jul merke, gereed . . . Agter Botha staan Kobus Basson, eienaar­ van Kleine Zalze in Stellenbosch.
En tjorts! Pieter Ferreira, voorsitter van die Cap Classique-vereniging, sit hand by met die sabrage.

In gesprek: Kelder-meester RJ Botha oor die Cap Classique-bedryf

1. Dit is die 50ste bestaansjaar van Cap Classique in Suid-Afrika en die 20ste herdenking van die Amorim Cap Classique-uitdaging en Kleine Zalze loop met die louere by die kompetisie weg. Wat beteken die prestasie vir jul span?

Dit is amper soos ’n sprokiesverhaal. Hierdie prys is ongelooflik spesiaal vir ons. Dit is ’n groot jaar vir Cap Classique en Amorim, maar ook vir Kleine Zalze. Ons vier by Kleine Zalze ook ons 25ste bestaansjaar vanjaar en meer spesifiek – dit was presies op die dag van die aankondiging dat ons die prys gewen het. Dit is baie spesiaal.

2. Hoe belangrik is jul Cap Clas­sique-aanbod met betrekking tot die wye reeks Kleine Zalze-wyne wat julle reeds maak?

Cap Classique is op die oomblik tussen 5% en 10% van ons jaarlikse produksie. Ons glo dit kan natuurlik nog groei ook.

3. Hoe het die bedryf vir Cap Classique op eie bodem oor die jare heen verander na jou mening­? Dink jy mense ag dit steeds net as ’n sogenaamde “troudrankie”?

Cap Classique is seker die wynkategorie wat die meeste gegroei het die laaste paar jaar. Dit is nie meer net ’n verjaardag- of troudrankie nie. Mense geniet dit as ’n wyn op sy eie en dit werk ook baie goed saam met kos.

4. Wat dink jy behoort produsente/bedryfsliggame te doen om die mark vir vonkelwyn verder plaaslik en internasionaal uit te bou?

Ons moet saamwerk. Die enigste manier om ons mark te groei, is om die hele Suid-Afrikaanse wynkategorie te groei. Ons kan dit nét doen deur saam te werk en saam dieselfde boodskap uit te dra.

Ons maak van die beste wyne in die wêreld – Cap Classique, asook stilwyne. Ons moet saamwerk sodat die verbruikers daarbuite dit besef.

Eendrag maak mag: Die gedugte span by Kleine Zalze is (agter van links) Anel Botha, Henning Retief en Gerald Snyman. Voor staan Norman Paulse, Kobus Basson, RJ Botha, Hanri Ferreira en Nataleé Botha.

5. Wat is die boublokke wat nodig is om goeie Cap Classique te maak?

Dit klink seker al ’n bietjie vervelig, maar ’n goeie wyn word altyd in die wingerd gemaak. Dit is die hoeksteen.

Vir my benodig ons goeie druiwe­ en daarna net baie tyd. Om Cap Classique te maak, is ’n baie tydrowende proses. Ons resep is dus goeie druiwe en geduld.

6. Dink jy daar bestaan so iets soos die “perfekte borrel”?

Ek glo so, ja. Ek dink die perfekte borrel word baie beïnvloed deur die omgewing en situasie waarin die verbruiker hom of haarself bevind.

Jy sal weet wanneer jy die perfekte borrel in jou glas het . . .

7. Wat onderskei Kleine Zalze se Cap Classique van die ander op die wynmark?

Ons produseer op die oomblik drie verskillende soorte Cap Classique. Die 2015 Brut is natuurlik ons vlagskip Cap Clas­sique. By ons kelder word net die beste wingerdblokke gekies en die wyn bestee ’n minimum van 36 maande op die gismoer ná die tweede fermentasie. Daarna lê dit ’n verdere 24 maande voordat ons dit vrystel. Dit is baie spesiaal as jy dink die wyn is eintlik nog ’n tiener en dit sal vir die volgende tien jaar nog goed verouder.

8. Wat is die verskil tussen Cap Classique en vonkelwyn?

Om dit regtig baie eenvoudig te stel: Cap Classique kry die “vonkel” deur middel van ’n tweede fermentasie in die bottel en dan verouder die wyn op die gismoer vir ’n minimum tydperk van 12 maande. ’n Gewone vonkelwyn kan gekry word deur CO2-gas deur die wyn te blaas. Amper soos die karbonering van gaskoeldrank . . . dink aan SodaStream.

RJ Botha (links), Kleine Zalze se keldermeester, saam met Basson, eienaar. Basson het Kleine Zalze in 1996 gekoop en ’n premie-wynhandelsmerk daaronder gevestig.

9. Wat vir jou persoonlik maak Cap Classique spesiaal?

Dit is ’n ongelooflike proses wat gevolg word om die mees elegante wyn met die elegantste borreltjie te produseer.

In die meeste gevalle neem die proses minstens 18 tot 24 maande – en soms tot 48 maande. Die eindproduk is dan seker een van die wonderlikste ervarings wat jy kan kry.

10. Watter Cap Classique-wyn/wyne is jou gunsteling? Benewens Kleine Zalze s’n, natuurlik!

Simonsig Kaapse Vonkel is áltyd ’n gunsteling en dan natuurlik ook Steenberg.

11. Kleine Zalze het die afgelope jaar en ’n half groot eerbewyse en pryse verower. Hoe lyk die pad vorentoe vir die kelder?

Ons sal graag wil voortbou op die laaste paar jaar se sukses en dus ook ons beeld as ’n premie-wynprodusent nog verder verbeter.

Ons moet seker maak ons bly relevant in die wêreld wanneer dit kom by wynstyle en gehalte, en ons sal aanhou vernuwe en innoveer.

12. Hoe belangrik dink jy is kompetisies soos die Cap Clas­sique-uitdaging vir die bedryf?

Dit is werklik belangriker as wat die meeste mense sou dink. Produsente gebruik die geleentheid as ’n maatstaf vir wyngehalte en gebruik ook die uitslae vir bemarking en so meer.

Die Cap Classique-vereniging in Suid-Afrika doen op die oomblik ongelooflike goeie werk om ons wyne te bemark en sodoende die beeld van Cap Classique te verbeter en hopelik verkope te stimuleer.

Van toeka tot nou toe

Kleine Zalze is ’n plaas in familiebesit wat in die hartjie van die Kaapse Wynland in Stellenbosch geleë is. Daar word al sedert 1695 op kleinskaal wyn op dié plaas gemaak, maar dit is eers sedert 1996 – toe Kobus Basson en sy familie dit gekoop het – dat ’n premie-wynhandelsmerk gevestig is.

Kleine Zalze vier vanjaar 25 jaar van wynmaak. Benewens vir die kelder se rits prestasies wat reeds genoem is, is dit ook al as Mundus Vini se beste Suid-Afrikaanse produsent in 2020 en 2021 aangewys, en die Sommelier Wine Awards se beste nuwe wêreld-produsent in 2015, 2018 en 2019.

Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
15.26
+0.5%
Rand - Pond
20.48
+0.9%
Rand - Euro
17.09
+0.9%
Rand - Aus dollar
10.82
+0.8%
Rand - Jen
0.13
+0.9%
Goud
1,816.17
-0.2%
Silwer
23.35
-0.7%
Palladium
2,363.00
+1.2%
Platinum
1,037.00
+0.3%
Brent-ruolie
89.96
+2.0%
Top-40
66,933
-0.6%
Alle aandele
73,344
-0.6%
Hulpbronne 10
75,210
-0.1%
Industriële 25
90,294
-1.3%
Finansiële 15
14,905
-0.1%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos