Doemprofete lui dikwels die doodsklok vir die gedrukte resep weens die tsunami van aanlyn resepte net ’n klik weg. Dan verskyn ’n kookboek soos Friends. Food. Flavour: Great South African Recipes wat dadelik soos ’n ou vriend voel.
Die hardeband-pragwerk van Michael Olivier, restaurantveteraan, skrywer en wynfoendi wat al deur Eat Out vereer is vir sy lewensbydrae, is deels gerusstellend en deels vol afwagting om ontdek te word. Die kunssinnige ontwerp wat illustrasies met kosfoto’s van Mike Robinson integreer, skep iets unieks. Roelien Immelman, illustreerder-ontwerper wat saam met haar man en dogtertjie, Miems, in ’n berghuis in Taipei bly, se skeppende talent en Michael se storievertelling sorg vir ’n boek wat grense verskuif.
Die eerste resep wat ek uit die boek gemaak het, eenvoudige kerrie-eiers, neem my terug na my ma se kombuis. Vele sou daarop volg: die bobotie, koolbredie op Louis Leipoldt se manier, outydse hoenderpastei en malvapoeding.