
Daar is duisende verskillende druifsoorte regoor die wêreld, waarom dus nie jou palet verbreed met ’n paar ander wyne as dié in jou kas nie? Suzaan Potgieter het ’n paar van die wyne op die proef gestel.
Daar is ’n wyn vir bykans elke letter in die alfabet en jy mag dalk nog nooit van die meeste gehoor het nie, maar dit beteken nie jy moet hulle nie probeer nie.
Albariño, bukettraube, cinsault, gewürztraminer, touriga nacional, roussanne en semillon, om net ’n handjievol te noem, is van hierdie wyne. Daar is egter ’n lang lys van meer as 100 verskillende wingerde in Suid-Afrika en alhoewel die meeste in versnitte gebruik word, word baie van hierdie minder bekende druifsoorte op hul eie gebottel.
Laarman kies die ongewone
Arco Laarman het maar vier jaar gelede sy eie handelsmerk begin en het tans net vyf wyne in sy portefeulje, maar hy is nie bang om ’n kans te waag nie.
Hy en sy vrou het verlede jaar vreesloos hul lewe in die Paarl opgegee en sak en pak na Onrus verhuis, waar hy nou sy wynonderneming bestuur. Dít nadat hy in 2019 met kolonkanker gediagnoseer is en tans in remissie en op die herstelpad is.
Dit is dus nie verbasend dat Laarman werk met druifsoorte soos cinsault en pinot gris nie, want hy is duidelik nie bang vir ’n uitdaging nie. Hy ry tot elke jaar tot op Vermaaklikheid aan die Kaapse suidkus om self sy chardonnay-druiwe te gaan haal en ry dan 80 km/h daarmee kelder toe.
Reeds op die ouderdom van 12 jaar het hy tydens ’n vakansie in die Kaap besluit om ’n wynmaker te word. Sy loopbaan het begin met ’n internskap by Kaapzicht, waarna hy in Australië, Frankryk en Amerika ervaring opgedoen het. Daarna was hy vir bykans twee dekades by Glen Carlou as assistent-wynmaker en daarna keldermeester.
Die Focal Point Cinsault 2019 is reeds ’n bekroonde wyn met 91 punte in Tim Atkin se Suid-Afrikaanse verslag en ’n silwer- medalje by vanjaar se Old Mutual-trofee wynskou.
Volgens Laarman is die Focal Point-reeks se doel om aandag te vestig op unieke wingerde. Die druiwe vir dié wyn kom uit die Paarl.
“Liggingspesifieke wyne is uitdruklik gewortel in ’n plek en tyd,” sê hy.
- Die Cluster Pinot Gris 2021 is ’n splinternuwe toevoeging tot die familie wat die afgelope Sondag vir die eerste keer bekend gestel is. Dit sal beslis aanklank vind by geharde witwyn-drinkers met ’n geurprofiel tussen die van sauvignon blanc en chenin blanc. Daar is geure van sitrus soos lemmetjie en suurlemoen, en onder meer peer en appel. Lieflik vir warmer dae en saam met seekos soos garnale.Die Focal Point Cinsault 2019 (R205) en Cluster Pinot Gris 2021 (R95) is beskikbaar by www.laarmanwines.com.
Sy ander wyne, insluitende ’n heerlike chardonnay, is ook aanlyn beskikbaar.
Van Spanje na Springfield
Dit was tydens ’n vakansie dat die eienaars van Springfield in Robertson vir die eerste keer die Spaanse-druifsoort albariño geproe het.
Springfield Estate se albariño betower die span tot vandag toe. Dit is geurig, propvol appelkoos-, kaalperske- en blomgeure, met ’n mineraal-karakter gedra deur vars nuanse van lemmetjies. In die glas herinner die wyn jou aan die varsheid van sauvignon, maar met ’n voller lyf, wat neig na chardonnay.
Albariño is perfek vir enige viering in die somer. Dit is ideaal saam met seekos en is ook ’n uitstekende pasmaat vir tapas of southappies!
Vir meer inligting besoek gerus www.springfieldestate.com
Die mede-eienaars en sibbe Abrie en Jeanette Bruwer het op hul reise van Chili na Uruguay deur ’n dorpie gery en ’n gastehuis opgespoor om in te oornag.
Terwyl hulle gewag het vir hul kamers om gereed gemaak te word, het die mense daar aanbeveel hulle moet gaan koffie drink by die koffiewinkel om die draai.
“Ons drink nie eintlik koffie so laat in die middag nie en het gevra of hulle wyn het. Daar het ons toe die lekkerste bottel witwyn geniet wat ons later uitgevind het albariño was,” vertel Abrie.
Terug in Suid-Afrika, nadat hulle verlief geraak het op dié druifsoort, het hulle dadelik begin soek na stokkies om albariño-wingerde te plant.
Dave Newton Johnson het toe ’n paar stokke gehad en het twee of drie jaar later vir hulle stokkies gegee.
In die eerste jaar het hulle net 7 000 bottels gemaak en dit was binne vier dae uitverkoop.
Die albariño-wyn is amper soos ’n kombinasie van chardonnay en sauvignon blanc.
Die wyn is ideaal vir die warmer somersdae. Dit is romerig, maar het ’n mooi suur en afronding van vrug.
Verder bevat van hul Miss Lucy-versnitwyne druifsoorte soos pinot gris en semillon, én hulle het pas ’n opwindende nuwe druifsoort aangeplant.
“Ons het vanjaar 8 000 stokkies sauvignon gris gekry – ’n druif wat pienk van kleur is. Ons het reeds alle klone van sauvignon blanc, wat 60% tot 70% van ons oes is, op die plaas en dit is lekker om die voorvaders en boustene daarvan te hê,” sê Abrie.
- Kry die Albariño 2021 (R120) aanlyn by springfieldestate.com of by die kelder naby Robertson.