Leeftyd van innovasie beloon

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Enige mylpaal in die wyn­bedryf is spesiaal, maar Perdeberg se 80ste viering vanjaar wys net hoe goed dié kelder sedert 1941 gegroei het.

Plaas
Perdeberg vier 80 jaar van wynmaak met ’n eksklusiewe wyn en ’n sterk fokus op die toekoms.Foto’s: VERSKAF

Ná ’n moeilike jaar in die wynbedryf vier hierdie kelder vanjaar hul verjaardag in styl met die bekendstelling van ’n spesiale wyn en ’n sterk fokus op die toekoms.

Gestig in 1941 teen die voorheuwels van die Perdeberg, het die kelder hulself gevestig met hul droëland-wyne en unieke terroir. Gebore uit die idee van boere om hul eie wyn te maak in plaas van hul druiwe vir ’n appel en ’n ei te verkoop, is die kelder steeds verbind tot die agt sleutelhoekstene van hul DNS: erfenis, innovasie, verhoudinge, droëland, chenin blanc, ligging, volhoubaarheid en uitnemendheid.

Rex Equus Pioneer’s Blend 2019.

Trots op al die sukses

Met ’n konstante fokus op innovasie, het Perdeberg verander in ’n uitvoergedrewe, diverse onderneming met bekroonde wyne, ’n verspreidingsmaatskappy, ’n grootmaatwyn-handelsentrum, en ’n bestemming met ’n restaurant en proelokaal.

“Vir ’n maatskappy om deurlopend relevant te wees deur al die veranderinge wat ons in die wêreld sien, en steeds so suksesvol te wees, is ’n merkwaardige prestasie,” sê Perdeberg se uitvoerende hoof, Gerhard van der Watt.

Met al die innovasie, tegnologie en wynmakers, is die druiwe en grond steeds die kern van die kelder se sukses – asook die mense voor en agter die skerms wat alles moontlik maak.

“Ons is waar ons is danksy die verbintenis van ons produsente wat saam met ons gaan, watter rigting ons ook al inslaan. Ek prys hulle vir hul harde werk en taaiheid,” sê hy.

Sluit aan by die restaurant vir een van hul heerlike braai-pieknieks.
Vieringwyn uitgereik

Om 80 jaar van wynmaak te vier, het Perdeberg ’n nuwe wyn bekend gestel wat spesiaal vir hul verjaardag gemaak is.

Die beperkte hoeveelheid van die Rex Equus Pioneer’s Blend 2019 is beslis ’n versnit waarop jy jou hande moet kry as jy ’n Perdeberg-liefhebber is.

Hierdie elegante versnit is gemaak van 38% malbec, 35% cabernet sauvignon, 17% merlot en 10% petit verdot en is ’n sagte, vruggedrewe wyn wat die area en verskillende druifsoorte mooi wys.

Die naam beteken “koning van perde” in Latyn en is gekies om die kragtigheid en elegansie van die wyn te wys.

Volgens die keldermeester Albertus Louw het die groeitoestande op droëland ’n belangrike rol gespeel in die gehalte en intensiteit van die vrug vir die versnit.

Die druiwe is met die hand gepluk en in klein hoeveelhede geoes. Daarna het die wyn 18 maande in 500-liter- Franse eikehoutvate deurgebring. Slegs die beste vate is gekies om ’n wyn met ’n goeie harmonie van geur en balans te kry.

Jy kan uitsien na ’n wyn propvol geur, smake van donkervrug en ’n tikkie spesery. Voorwaar ’n lekker wyn om te geniet saam met kos of sommer net so saam met goeie geselskap.

Die Rex Equus se 750 ml-bottel word verpak in ’n houtboksie en om die geboortejaar te eer, is slegs 1 941 genommerde bottels beskikbaar. Dit kos R600 per bottel. Daar is ook 80 magnum-bottels (1,5 liter) teen R1 200 elk beskikbaar.

Die wyn is aanlyn by perdeberg.co.za/­80-years-home/ en by die proelokaal te koop.



Kuier by Perdeberg
As jy saam met die kelder wil vier vanjaar, kan jy ’n wynproe of voldag-kuier by Perdeberg gaan geniet.

Dit is ’n heerlike plek vir die hele familie met ’n proelokaal, restaurant en speelplek vir die kinders.

Sluit aan by die proelokaal vir ’n wynproe (R50) of een van hul wynproeë saam met lekkernye soos sjokolade (R75) of lekkergoed (R55). Jy kan natuurlik net ’n bottel wyn of twee ook by die proelokaal geniet.

Die proelokaal is heelweek oop vir besoekers.

Benewens die verskillende wynproeë en opsies in die proelokaal, kan jy ook die wyne saam met kos by die Eat@Perdeberg-restaurant geniet.

Die restaurant se spyskaart wissel per seisoen, maar daar is altyd pizzas en hul treffer braai-pieknieks.

Die braai-piekniek-boks kos R495 en is genoeg vir twee mense. Dit sluit braaivleis, roosterkoek, slaai en nagereg in en daar is ook ’n kleiner een vir kinders. Bespreek 48 uur voor die tyd.

Die restaurant is Woensdae tot Sondae oop en besprekings kan by 021 020 1626 of dine@perdeberg.co.za gemaak word.
Blik op die geskiedenis

Die Perdeberg-kelder is in 1941 gestig toe ’n plaaslike boer, Jan Rossouw, ontnugter was deur die slegste pryse wat hulle vir duiwe gekry het, en voorgestel het dat die boere in die omgewing hul eie wyn begin produseer.

Die eerste druiwe is in 1942 met die hand gepars en in 1944 is die eerste raad van direkteure en die bestuurspan gevorm.

Die wynmaakmetodes en kultuur van uitnemendheid is van 1956 deur Joseph Huskisson gemoderniseer. Hy is aangestel as die eerste voltydse wynmaker en het Perdeberg slegs die tweede kelder in die land gemaak wat koue fermentasie gebruik. Hy het ook ander, nuwe tegnologie uit Europa ingevoer.

Hulle was ook op die voorpunt in 1990 toe hulle die eerste kelder in die streek was om ’n voltydse wingerdboukundige aan te stel.


besig om te laai... Regstreeks
Manchester United 3
Arsenal 2
besig om te laai... Regstreeks
South Africa A 297/10 & 116/5
India A 276/10
besig om te laai... Regstreeks
Sri Lanka 204/10 & 328/8
West Indies 253/10
Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
15.95
+0.7%
Rand - Pond
21.22
+0.4%
Rand - Euro
18.02
+0.8%
Rand - Aus dollar
11.31
+0.8%
Rand - Jen
0.14
+0.9%
Goud
1,767.33
-0.8%
Silwer
22.39
+0.3%
Palladium
1,780.47
+2.0%
Platinum
941.12
+0.6%
Brent-ruolie
68.87
-0.5%
Top-40
64,555
-0.4%
Alle aandele
71,021
-0.3%
Hulpbronne 10
67,557
-0.5%
Industriële 25
93,673
-0.4%
Finansiële 15
13,890
+0.1%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos