Op hul merke, gereed, pop!

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Cap Classique is meer as net ’n paar borrels in ’n glas – dit is ’n unieke wyn wat die afgelope 50 jaar net toenemend groei. Suzaan Potgieter het met ’n paar Cap Classique-wynmakers gesels om meer oor dié wynstyl uit te vind.

Dit was 1971 toe Frans Malan van Simonsig besluit het om die chenin blanc-druiwe van die plaas te vat en ’n bottelgegiste vonkelwyn daarmee te maak.

’n Eerste in die land waar dié styl van wyn as Champagne bekend gestaan het, maar vandag ken almal dit as Cap Classique.

Op dié Stellenbosse-wynplaas het die borrels beslis die praatwerk gedoen – 50 jaar later is Cap Classique nie net bekend onder alle wyndrinkers nie, maar ’n magdom kelders maak hul eie. Daar is selfs kelders wat net op Cap Classique fokus.

Hierdie feestelike drankie het homself gesetel as deel van die wynbedryf se geskiedenis met sy eie vereniging vir al die lede én ’n kompetisie wat jaarliks aangebied word om die wynstyl te vier.

Vonkelende wyn met ’n blink toekoms

’n Paar van die bedryf se wynmakers deel meer oor Cap Classique:

Johan Malan

Johan Malan, wynmaker van Simonsig­, onthou nog toe sy pa, Frans, 50 jaar gelede die eerste Cap Classique in Suid-Afrika gemaak het.

Daar het hy onder meer Champagne besoek en die idee gekry om self ’n bottelgegiste vonkelwyn te maak. Hy moes al die toerusting vir die proses laat maak, want dit was nie in Suid-Afrika beskikbaar nie. Boonop was daar niemand om hom te help of leer nie – hy moes alles self uitsorteer.

Vandaar is Kaapse Vonkel gebore. Aangesien die produksie daarvan so klein was, het hulle eers net elke tweede jaar ’n Kaapse Vonkel gemaak. Boonop moes die bottels ingevoer word en die wyn was “baie duur”.

“Elke bottel is verkoop in ’n boksie met ’n pamflet wat die proses verduidelik. Dit het R3 per bottel gekos en was in daardie jaar die duurste witwyn in Suid-Afrika! Om jou ’n idee te gee: In daardie jaar was die chenin blanc 50c per bottel,” sê Johan.

Vandag maak Simonsig ’n hele reeks Kaapse Vonkel en hy gebruik ook nie meer chenin blanc nie, maar eerder pinot noir, chardonnay, pinot meunier en selfs pinotage. Daar is ook in hul reeks ’n styl vir elke palet.

“Die standaard van Cap Clas­sique in Suid-Afrika is baie hoog. Ons wynmakers kom bymekaar, proe mekaar se wyne en gee terugvoering. Sodoende help dit om seker te maak slegs goeie gehalte Cap Classique word geproduseer.”

Achim von Arnim

Achim von Arnim, voormalige keldermeester en stigter van ­Haute Cabrière in Franschhoek, het die eerste blanc de noir in Suid-Afrika gemaak as keldermeester van Boschendal.

“Ten tyde van die oeste van 1978 en 1979 het ek die vertroue van die direkteure van Boschendal­ gewen met die gehalte van wyne wat ons geproduseer het. Toe, asof dit gelukkige toeval was, het ’n jong Fransman uit die hartjie van Champagne aan my deur by Boschendal geklop en werk gevra sodat hy sy ‘vakansie’ in die mooi Kaap kan verleng. Sy naam was Jean-Louis Denois. Dit was winter in Champagne en sy pa het hom nie nodig gehad nie.

“Ten tyde van die pars van 1980 het ons toe begin eksperimenteer met Cap Classique. Hy het gebly by my familie en my vrou die Franse manier van kook geleer. Helaas het sy nie ’n gasstoof gehad nie en hy het dit onvergeeflik gevind.

“Saam het ons baie pret gehad en ten tyde van die pars van 1981 was hy terug en ons het die eerste Boschendal Cap Classique begin produseer,” sê hy.

In twee intense parsseisoene het Denois vir drie maande elke keer by die gesin gebly en Von Armin­ die fynere detail van die produksie van Champagne geleer.

Volgens hom was die grootste uitdaging in daardie jare dat daar geen chardonnay- of pinot noir- wingerde in die Kaap was nie – die klassieke druifsoorte van Champagne.

Vir hom kom die liefde vir vonkel van sy ma, Dolly (Theodora) von Arnim, wat ’n onderwyseres was aan die kookskool Silwood School of Cookery in Rondebosch. Die Fransman André Simon, wat die “Champagne House” of Pommery et Greno in Brittanje verteenwoordig het, was die eerbare president van die skool.

“My ma was mal daaroor om eksotiese etes aan te bied. Sy was altyd ’n frankofiel en Simon se besoeke was die hoogtepunt van haar jaar!

“In daardie dae het hy per boot gearriveer, in die middel 1960’s, met kratte vol Franse Champagne om by te dra tot die wonders van kook en ongelooflike oomblikke in die lewe. My weduweema se lewe was hard en sy het veral die ure om die tafel met gesofistikeerde kos en geselskap, Champagne en wonderlike Kaapse wyn gewaardeer.”

Vir hom is die toekoms van Cap Classique baie blink in Suid-Afrika, veral omdat dit al hoe meer gewild word.

“Ons gehalte is wonderlik, aangesien ons wingerde in die ideale toestande groei met geen verwoestende somerreën nie. En soos die keldermeesters meer en meer van die styl leer, word dit heeltyd beter.

“Ons pryse is ook ’n kwart van wat ’n middelklas-Champagne voor verkoop word en in blind proeë kom ons Cap Classiques dikwels bo Franse Champagne uit omdat hulle meer rond en vrugtig is,” sê Von Arnim.

Jeff Grier

Vir Jeff Grier, Villiera se keldermeester, het sy liefde vir Cap Clas­sique begin toe hy die einste Denois ontmoet het.

“Om hom te ontmoet en toegang tot sy kennis en kontakte te gehad het, het my toegelaat om die geheime van Champagne te ontdek. Dit het die passie wat ek vir dié kategorie het, gestimuleer.”

Hy het in 1984 begin om bottelgegiste vonkelwyn te maak. Dit het eers in 1992 die naam van Cap Classique gekry toe die produsentevereniging gestig is, waarvan hy ’n stigterslid is.

Wat dié styl van wyn vir hom so uniek en spesiaal maak, is dat dit meer tegnies is en ’n wynmaker meer betrokke is by die produksie daarvan.

“Ons sê altyd wyn maak homself, maar dit is nie die geval met Cap Classique nie. Dan is daar ook die ekstra dimensie van die borrels en die ‘pop’ wanneer die bottel oopgemaak word. Dit maak van die wyn ’n ideale keuse vir ’n viering en dra by tot die styl se uniekheid,” sê hy.

En wat hou die toekoms in vir hierdie wynstyl?

“Cap Classique word al hoe beter verstaan en meer gereeld as ooit geniet. Met die beter verstaan is daar ’n groter navraag vir spesialisvonkel, soos enkelwingerd-weergawes; meer natuurlike, droër en meer verouderde weergawes – en weergawes van Cap Classique wat iets anders bied. Aan die ander kant soek die nuwe, meestal jonger mark eerder demi-sec.

“Innovasie in verpakking is ook deel van die toekoms, veral ten opsigte van geskenke,” sê Grier.

Danielle Coetsee

Danielle Coetsee, Boschendal se Cap Classique-wynmaker, sê Cap Classique is werklik ’n kunsvorm in die wynbedryf en mense begin dit raaksien en wil meer daarvan weet.

“Dit is ’n produk wat so lewendig is! Dit is die naaste wynstyl wat ons het aan iets buitengewoons en iets lewendigs in die glas. Daardie borreltjies is werklik iets besonders! Dit is so spesiaal en maak enige geleentheid spesiaal.”

Vir haar is die uitdagings van die wyn dit wat dit so interessant maak. Sy het in 2015 met Cap Classique begin werk op kleinskaal en in 2017 by Boschendal aangesluit waar sy in 2019 as die Cap Classique-wynmaker aangestel is. Sedertdien fokus sy 100% op dié wynstyl.

“Daar is soveel stappe in die proses en elke stap is ’n geleentheid om ’n verandering in die finale produk mee te bring. Dit is baie fyn detail, baie fyn werk met elke stap, maar elke stap gee jou ook die geleentheid om die beste produk aan die einde van die dag te lewer,” sê Coetsee.

“Suid-Afrikaanse Cap Clas­sique is ons styl van wyn wat die vinnigste groei en ek dink ons gaan sien hoe dit aanhou groei. Mense se smaak en palette en blootstelling aan die wyn word al hoe beter. Mense verstaan nou al die verskil tussen vonkelwyn wat met CO2 gemaak word en die wynstyl van Cap Classique (wat bottelgegis is). Daarom sal die wyn aanhou groei.”

Pieter Ferreira

Die paaie tussen almal se liefde vir Cap Classique kruis weer as dit by Pieter (Bubbles) Ferreira, wynmaker van Graham Beck en voorsitter van die Cap Classique-produsentevereniging, kom. Hy het met hierdie wynstyl begin werk toe hy in 1984 saam met Von Arnim in Franschhoek begin werk het.

“Clos Cabrière (nou Haute Cabrière­) was die heel eerste spesialiskelder vir Cap Classique in die Kaapse Wynlande. Ek het sewe wonderlike jare saam met Achim deurgebring voordat ek by Graham Beck aangesluit het in 1990.

“Cap Classique is die suiwerste vorm van enige wyn. Dit is wonder-lik as ’n aperitief, vir ’n viering en die veelsydigste met kos – so wie kan nie verlief raak op Cap Classique nie?

“Dit was maklik om ’n liefde daarvoor te hê, aangesien ek van dag een af slegs met Cap Classique gewerk het – ek het dit basies gewerk, geëet­, geslaap en dit gedrink, 24/7! En ná al die jare is die mistiek steeds daar.

“Die borrels het my lewe oorgeneem. Ek is per slot van rekening bekend as Pieter (Bubbles) Ferreira!”

Wat hierdie styl van wyn vir hom so uniek maak, is die fynere detail wat dit vereis.

“As ek in die kristalbal kyk na die toekoms van hoe Cap Classique op die gismoer sal ontwikkel, gaan dit oor perfeksie oor tyd.

“Dit gaan regtig oor die strewe na die perfekte borrel wat die wyn so uniek en spesiaal maak,” sê Ferreira.

Zelda en Charles Fox

Charles en Zelda Fox is die kragtige egpaar agter die Charles Fox-wynlandgoed in Elgin wat slegs Cap Classique-wyne maak. Hulle het in 2007 met die wynstyl begin werk toe hulle Cap Classique-spesifieke druiwe begin plant het. In 2010 was hul eerste oes, wat baie klein was, en die eerste wyn is in 2012 bekend gestel.

“Vir die eerste drie jaar het ons vakleerlinge gehad wat uit Frankryk gekom het om te help, asook Nicolas­ Follet van Oenosense Consulting­ wat gekonsulteer het oor die wyne. Daarna het ek en Charles saam met hom gewerk.

“Die moeilike deel was om dit te verkoop. Charles moes van deur tot deur gaan om dit te probeer verkoop en as die new kid on the block was baie deure toe. Wat gehelp het, is toe ons eers in die middel van nêrens ontdek is, het ons kliënte begin om restaurante te vra waarom hulle nie Charles Fox verkoop nie.

“Dit was ’n baie lang reis, maar nou verkoop ons al sewe verskillende soorte Cap Classique in ons reeks,” sê Zelda.

“Ons liefde vir Cap Classique kom van Charles. Toe ons 15 jaar gelede begin het, was daar nie ’n magdom goeie Cap Classique op die mark nie, maar nou is dit ’n heel ander storie met al die Cap Classique in die land se gehalte wat verbeter het. Almal hou nie van dieselfde ding nie en daar is verskillende style vir alle palette.

“Dit is baie moeiliker om te maak (as ander wyne) en jy kan dit nie net maak en los nie. Dit neem baie geduld. Dit is ’n kuns wat geleer moet word.”

Die Fox-egpaar is ook positief oor die wynstyl se toekoms.

“Dit is baie meer toeganklik as ooit tevore en meer mense drink dit as ’n elkedag-wyn en nie net ten tyde van vieringe nie.”

Elunda Basson

Elunda Basson , Steenberg se keldermeester,werk al meer as tien jaar met Cap Classique en ken dit deeglik.

“In Junie 2007 het die direkteur van wyn by Distell my gevra of ek nie wil skuif van Nederburg na JC le Roux en Pongrácz nie. Ek het dadelik die geleentheid aangegryp. Die res is geskiedenis!”

Volgens haar is sy redelik in die diepkant ingegooi en die wynmaker, wat op pad was na Frank­ryk, het net ’n maand gehad om haar touwys te maak.

“Dit is nie ’n maklike wynmaakproses nie en baie dinge kan verkeerd gaan indien jy nie die teorie daaragter verstaan nie.”

“14 jaar later is daar steeds geheimenisse wat my verstom van bottelgegiste vonkelwyn. Maar dit is juis die uitdaging én die beloning agter die maak van ’n pragtige Cap Classique.”

Sy sê daar is geweldig baie geleenthede vir Cap Classique.

“Ons is baie bemoedig deur die sterk ondersteuning van plaaslike verbruikers en die gesonde groei in volumes en nuwe handelsmerke in die plaaslike mark.

“Mense waardeer en ondersteun trots Suid-Afrikaans. In die oorsese mark sien ons ook gesonde groei en herkenning vir die gehalte van ons produkte uit Suid-Afrika.

“Cap Classique en die werk wat die vereniging doen, is besig om ’n herkenbare handelsnaam te word oorsee wat goeie gehalte en goeie waarde vir geld verteenwoordig en in baie markte vind ons dat verbruikers dit verkies bo prosecco en sjampanje.

“As die grootste groeiende kategorie in Suid-Afrikaanse wyn het ons nog baie woema in ons enjin en ná 50 jaar van Cap Classique maak, het die bedryf maar nog net begin wys hoe goed ons kan wees!”


Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
16.27
-1.9%
Rand - Pond
21.71
-0.0%
Rand - Euro
18.42
+0.1%
Rand - Aus dollar
11.59
+0.0%
Rand - Jen
0.14
+0.2%
Goud
1,792.60
0.0%
Silwer
23.13
0.0%
Palladium
1,751.49
0.0%
Platinum
955.50
0.0%
Brent-ruolie
72.72
-11.6%
Top-40
62,411
-2.6%
Alle aandele
68,615
-2.8%
Hulpbronne 10
64,074
-2.5%
Industriële 25
92,909
-1.3%
Finansiële 15
12,995
-6.8%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos