Ek spog graag met my koskind Herman Lensing, die vrouetydskrif Sarie se kosredakteur.
Ons loop al ’n lang paadjie sedert hy ’n nat-agter-die-ore-student in my mediastudie-klas was.
Hierdie Upington-gebore superster op die Suid-Afrikaanse kostoneel het my toe al beïndruk met die manier waarop hy die band tussen kos, emosies en herinnerings kon uitbeeld.
Met sy ma, Susan, as sy eerste kosrolmodel en Letitia Prinsloo, hoof van die Institute of Culinary Arts, as sy groot leermeester het hy ’n goeie fondament gehad. Om by Sarie die skoene te kon volstaan van ikone soos Peter Veldsman en Barbara Joubert, en syeie spore so diep te trap wys hoeveel in hom steek.
“Hoe kry jy dit reg, Herman?” vra ek nadat ek die 70ste uitgawe van Sarie Kos in sy nuwe, groter formaat deurgeblaai het.
“Deursettingsvermoë, wilskrag, harde werk en goeie beginsels,” beaam hy. “Daarby deeglike beplanning, om altyd voorbereid te wees en om my werk te geniet.”
Hopeloos te beskeie, reken ek toe ek elkeen van die herdenkingsuitgawe se 156 blaaie verslind. Daar’s dinge wat niemand anders hom kon leer nie, soos ’n natuurlike aanvoeling vir wat mense regtig graag wil eet, die vermoë om nuwe neigings raak te sien en te vertolk, die geheime van kosmaak te ontrafel en kostegnieke toeganklik te maak.
Die drie resepte van Herman wat ek uit die 75 resepte gekies het om dadelik te maak, getuig elkeen hiervan. Ontdek dat doodgewone mieliepap die heilige graal vir die perfekte brownie-fondant is, vier jou kosbare flessie Marmite met iets nuuts, en raak avontuurlik met ’n varklies in die lugbraaier.
Lank lewe Sarie Kos!