‘Skoonheid is die taal van omgee.” Hierdie woorde van die Amerikaanse sjef Alice Waters draal deur my kop sedert my onlangse koskuier by Halfaampieskraal, ’n skaapplaas met ’n gastehuis naby Napier in die Overberg.
Ek en my kosvriende het vanjaar die besluit geneem om ons beplande vakansie in die Toskaanse platteland te verruil vir die heuwels van ons eie land.
’n Beter bestemming vir lekker eet en verder niks doen as Halfaampieskraal is daar nie. Op sy merino-plaas het Jan-Georg Solms ’n gastehemel geskep wat sy mitiese status verdien.