
Baie mense ken hom as een van die Kokkedoor-wenners en nou is hierdie TV-sjef ’n aanbieder. Tiaan Langenegger is terug op die kassie met sy nuwe kookprogram, Tiaan Proe.
Nog voor hy groot genoeg was om by die stoof te kon bykom, kon Tiaan Langenegger al witsous en pannekoek maak. Hierdie Stellenbosse sjef het al van ’n jong ouderdom af ’n passie vir kos.
Volgens hom het hy grootgeword in ’n huis van kos en kuier en sy passie vir kos kom van sy ma en ouma af.
Nou deel hy dié liefde op die kassie met die reeks Tiaan Proe waarvan die eerste van 13 episodes binnekort gesien kan word.
In die reeks sal hy huiskos maak en lekker tye in die kombuis uitbeeld met elk van die episodes wat ’n tema van onder meer trooskos, Paasnaweek, kinderhappies, maklike weeksaandetes en vele meer het.
“Selfs mense wat nie goed is in die kombuis nie, sal hierdie resepte kan maak! Hierdie program is ’n manier om mense weer opgewonde te kry oor kosmaak en die kombuis,” sê Tiaan.
Hy het al die resepte vir die program self geskryf. Hy het inspirasie gekry by mense wat ’n invloed op sy kookstyl gehad het en het ook geëksperimenteer met kos soos viskoekies, ingelegde vis en nog bekende disse.
Daar sluit ook gaste aan in die episodes, soos Tiaan se vrou, ma, ouma, die akteur Neels van Jaarsveld en die Stormers-rugbyspeler Ruhan Nel.
Hy deel drie resepte uit sy program om lesers ’n lekker voorsmakie te gee.
- Skakel van 5 April elke Dinsdagaand om 21:00 in op kykNET (DStv-kanaal 144) vir episodes van Tiaan Proe.
‘Crammed crust’- visvinger-pizza met tamatie, mozzarella en basiliekruid-pesto
Wat jy benodig
Vir die pizzadeeg:
- 1 pakkie kitsgis
- 700 ml louwarm water
- 5 ml sout
- 5 ml suiker
- 1 kg koekmeel (meulsteen-gemaal)
- 50 ml olyfolie
Vir die vulsel:
- 12 visvingers, gaargemaak in ’n lugbraaier of oond
- 5 eetlepels basiliekruid-pesto
- 100 g Ladismith-mozzarellakaas, gerasper
Vir die sous:
- 50 ml olyfolie
- 1 klein ui, gekap
- 1 klein blikkie tamaties, gekap
- 1 klein pakkie tamatiepasta
- 1 E. suiker
- sout en peper na smaak
Vir pizza:
- 100 g Ladismith-mozzarella, in stukke gesny
- vars basiliekruid vir garnering
Maak dan só
Pizzadeeg: Meng die water, sout, suiker en gis en baie goed saam. Gebruik ’n deeghak en meng die meel in die deeg en verwerk tot die deeg wegtrek van die kant van die menger.
Gooi die olie in ’n groot bak en keer die deeg uit op die olie.
Bedek met kleefplastiek en laat rys tot dubbel in volume of selfs oornag in die yskas.
Keer die deeg uit op ’n meelbedekte oppervlak en deel in 4 balle.
Sny ’n sirkel uit bakpapier en gebruik dit as gids en ook om die deeg maklik in ’n sirkel te vorm met jou hande.
Voorverhit die oond tot 260 °C (of so warm soos jou oond kan word) met ’n bakplaat in die oond.
Vulsel: Pak nou die visvingers om die rand van die deeg, maar los genoeg deeg sodat dit oor die vingers kan vou. Strooi die kaas bo-oor die vingers en drup lepels vol van die pesto oor die kaas. Vou die deeg oor die vulsel en druk liggies vas met jou vingers.
Sous: Verhit ’n potjie met die olie en braai die uie tot deurskynend. Voeg die tamatie en tamatiepasta by en roer goed. Geur met sout, peper en suiker.
Smeer lepels vol van die sous oor die basis van die pizza en pak kaas oor die sous.
Haal die voorverhitte bakplaat uit die oond en skuif die pizza daarop. Sit dit dadelik terug in die oond en bak tot die kaas borrel en die deeg mooi goudbruin is. Verwyder van die oond en laat die pizza rus.
Plaas stukkies basiliekruid op die pizza en bedien.
Hierdie een is vir kinders of groot kinders, julle sal sien!
Die beste aartappelgebak in die wêreld met kaas en botter
Wat jy benodig
- 2 kg aartappels – ’n mens kan rondspeel met verskillende aartappels vir tekstuur
- 500 ml vars room
- 3 huisies knoffel
- sout en peper na smaak
- 100 g Ladismith-botter
- 100 g Ladismith-kaas
Maak dan só
Was die aartappels en sny dit in baie dun skywe met ’n skerp mes of op mandolien. Dit is nie nodig om die aartappels te skil nie.
Plaas die room in ’n groot bak en rasper die knoffel daarin, geur met sout en peper. Roer goed en sit nou die aartappels by. Meng weer baie goed en maak seker dat al die aartappels baie goed bedek is met die roommengsel.
Smeer ’n oondvaste bak goed met botter en plaas die mengsel met al die room daarin. Bedek met foelie en bak in ’n voorverhitte oond van 180 °C vir sowat 30 minute.
Verwyder die foelie en gebruik ’n eierspaan om die aartappels in die bak vas te druk. Strooi die kaas bo-oor en bak vir ’n verdere 15 minute tot ligbruin.
Hierdie gebak bêre baie goed en kan maklik verhit word. Oorskietgebak kan ook maklik in ’n lekker gereg omskep word.
Fillorol met skelvis en aartappelgebak
Gebruik die oorskiet-aartappelgebak van bostaande resep hiervoor.
Wat jy benodig
- 6 velle fillo
- 100 g botter, gesmelt
- 2 filette Sea Harvest-skelvis(haddock), in melk geposjeer
- Oorskiet-aartappelgebak
- Gerasperde kaas, verouderde Ladismith-cheddar
Maak dan só
Plaas 1 fillovel voor jou op ’n skoon oppervlak. Smeer met die botter, en sit nog 1 vel bo-op neer.
Plaas stukke van die oorskiet-aartappelgebak aan die onderkant van die vel. Plaas die skelvis bo-op en sprinkel gerasperde kaas bo-oor. Rol nou aan die buitekant die vulsel toe in die fillo en maak seker daar is genoeg deeg sodat die vulsel nie uitloop nie.
Verf weer met botter en plaas op ’n bakplaat. Bak in voorverhitte oond van 180 °C tot ligbruin en bros.
Dit kan as ’n voorgereg of selfs ligte middagete bedien word.
Vanjaar maak sjef Tiaan maak ook ’n draai by die SA Kaasfees wat in April 2022 oor twee naweke by twee verskillende bestemmings plaasvind.
Die fees is by Groote Post buite Darling op Saterdag 23 en Sondag 24 April, en op Sandringham buite Stellenbosch op Saterdag 30 April, Sondag 1 Mei en Maandag 2 Mei (Werkersdag). Kaas-en-wynliefhebbers kan uitsien na interessante uitstallers met kaas en meer, optredes deur kunstenaars soos Die Heuwels Fantasties, Kurt Darren en Francois van Coke, en aktiwiteite soos ’n spesiale Standard Bank Travel & Taste-ervaring elke dag om 13:00 met sjef Tiaan, Ladismith Cheese en Sea Harvest. Neels van Jaarsveld maak ook ’n verskyning aan Tiaan se tafel op Saterdag 23 April by Groote Post en op Sondag 1 Mei by Sandringham.
- Hou www.cheesefestival.co.za dop vir meer.