Pragtige strande, uitstekende natuurlewe in reservate en op safari’s en ’n lewendige mengsel van tale, kulture en kuns – hiervoor is Suid-Afrika alombekend.
Só beskryf Mary Fitzpatrick, een van Lonely Planet se “amptelike reisigers”, Suid-Afrika as deel van hul top-30-lys van internasionale bestemmings vir volgende jaar. “Dalk minder bekend is Suid-Afrika se fantastiese kulinêre aanbod.”
Mary se sewedag-toerplan (die stomme Lonely Planet-toeriste sal beslis plek-plek moet wikkel) sluit besoeke in aan Kaapstad (met uiteraard Robbeneiland en Tafelberg tussen die etery deur), Hermanus (vir kos én walvisse), Stellenbosch en Franschhoek (vir Kaaps-Hollandse argitektuur en baie wyn), die Krugerwildtuin (vir safari’s en braaivleis) en Johannesburg (vir die Apartheidsmuseum, kaas, roomys en steak), asook Sterkfontein (vir ’n besoek aan jou voorvaders).