Geskep deur drie plaaslike Bloem-mammas is die smaakvolle, unieke en sagte kollageen-jenewer, KolleGin, besig om landwyd bekendheid te verwerf. Met daardie ekstra bietjie kollageen wat elke vrou?.?.?. of man nodig het, kan dit dalk voorwaar die drankie van ewige jeug wees. Maricelle Botha het met die vroue agter dié gewilde jenewer gesels.
Die laaste paar jaar het ’n handjievol Suid-Afrikaanse jenewer-liefhebbers mikro-distilleerderye begin, wat ’n klein, maar groeiende bedryf in die proses geskep het. ’n Nasie wat nog nie ’n onlangse geskiedenis van die vervaardiging van dié drankie het nie, bied nou ’n uiteenlopende aanbod van geure en kleure aan jenewer-drinkers landwyd.
Een só ’n jenewer-suksesverhaal is dié van drie Bloemfonteinse “mammas”, soos hulle hulself noem.