Ná ’n jaar wat sy nou al met die Covid-19-virus gekonfronteer word, en waar sy die afgelope maand by ’n veldhospitaal werk, bly dr. Elma De Vries moedig.
Dis uiteraard sleg wanneer mense sterf, maar daar is ook mense wat gesond daar uitstap, sê sy. “Ons is bly oor almal wat beter word en nie meer suurstof nodig het nie.”
Maar dié kliniese bestuurder van die Mitchells Plain-Hospitaal van Hoop, een van twee soortgelyke hospitale in die Kaapstad-metropool, vertel een van haar grootste frustrasies is dat tot soveel as 30% van Covid-19-toetse ’n vals negatief kan wees en dat mense dit moeilik verstaan. “Daar is pasiënte in ons hospitale wat na aanleiding van ’n kliniese evaluasie deur ’n internis beslis Covid-19 het en die X-strale wys Covid-19, maar die toets is negatief. Dis dan moeilik vir die familie om te aanvaar dat dit ’n Covid-19-sterfte is, met Covid-19-reëls vir die begrafnis, sonder ’n positiewe laboratorium-uitslag.”