Min dinge in die lewe is beter as om ’n kind se hart te verbly. Dít is ’n les wat Hendrik en Annatjie Pelser reeds jare gelede geleer het.
Die Pelsers is die gesigte agter die Klein Begin Houtwerk-stalletjie op die Langenhovenmark in Bloemfontein. Hier kry jy onder meer houtspeelgoed in elke kleur van die reënboog.
Hendrik sê dié onderneming het begin toe Annatjie, wat by ’n plaaslike kleuterskool werk, 25 jaar gelede al die skool se stukkende speelgoed huis toe gebring het en wou weet of hy dit kon regmaak.