Matrikulante van oor die land heen kan nog net tot vandag hul inskrywings vir die 40ste Matrikulant van die Jaar-kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat (UV), Netwerk24 en Volksblad instuur.
Dit is vandag die sluitingsdatum van dié kompetisie waaraan voornemende Kovsies kan deelneem. Al 25 semifinaliste kan beurse wen. Die wenner en 13 finaliste ontvang prysgeld van die borge Kovsie Alumni-trust, Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walk, beurse van UV Studentewerwingsdienste, en die eindronde-geleentheid in Bloemfontein asook geskenke ter waarde van R10 000. Die ander 11 semifinaliste ontvang prysgeld van Kovsie Alumni-trust en beurse van UV Studentewerwing.
Matrikulante wat akademies presteer en ook by sport, leierskap en kultuur by hul skole betrokke is, kan inskryf. Gemeenskapsdiens en -betrokkenheid word ook tydens die beoordeling in ag geneem.