‘Die witrenosters van Phinda is almal spekvet en gesond en het hulself in verskillende dele van die park gevestig,” gesels Drew Bantlin, African Parks-Akagera se bewarings- en navorsingsbestuurder, per e-pos uit Rwanda.
November verlede jaar is 30 van die diere vanaf die &Beyond Phinda- private natuurreservaat in KwaZulu-Natal verplaas na die Akagera Nasionale Park in Rwanda. Dit was die eerste keer nog dat soveel renosters op een slag hervestig is.
Die projek was ’n samewerkingsooreenkoms tussen die luukse safari-operateur &Beyond Phinda, die bewaringsorganisasie African Parks en die Rwandese ontwikkelingsraad. Dis deur die Howard G. Buffett-stigting gefinansier.