Gauteng het vanjaar vier finaliste in die toptien-groep van die Mej. Suid-Afrika-kompetisie. Onder hulle is ’n vlieënier, mediese dokter en vroue wat hul eie ondernemings het.
Die een kan nie kos maak nie, die ander het al op die loopplank geval, nog ’n finalis het al in ’n muur vasgeloop en haar tande gekraak, en een van die Gautengers sê Kaapstad is een van haar gunstelingplekke.
Cheneil Hartzenberg (24) van Meredale in Johannesburg is ’n kommersiële vlieënier en werk as ’n senior vluginstrukteur in ’n bestuursrol by ’n vliegskool. Sy het verlede jaar ’n kursus in digitale bemarking aan die Universiteit van Kaapstad aanlyn voltooi en werk tans vir haar lisensie vir lugdiensvervoer.