
Thandeka Makhubu van die St Andrew’s School for Girls in Johannesburg is onderhoofmeisie en lid van die VRL. Sy wil ’n dokter word. Thandeka het vir die skool geroei, geswem, aan landloop deelgeneem en sy speel muurbal. Foto’s: VERSKAF

Marzanne van Heerden, hoofmeisie en kaptein van die tennisspan en die eerste netbalspan van die Hoërskool Wessel Maree in Odendaalsrus, wil medies studeer. Sy neem op streekvlak aan die ATKV Redenaars deel en is op die skoolkoerantredaksie.

Katlego Kgomo, ’n leerling aan die Tsakane Ext. 8 Secondary School by Brakpan, wil ’n bourekenaar word. Sy het aan die wiskunde- en aardrykskunde-olimpiades deelgeneem.

Isa-mari van den Berg, ’n leerlingraadslid van die Hoërskool Wilgerivier in Frankfort, is onderkaptein van die skool se eerste hokkiespan en het reeds die vlak 1- en vlak 2-noodhulpeksamen geslaag. Sy wil medies studeer.

Fanie Gouws, hoofseun en lid van die swemspan en eerste tennispan van die Hoërskool Bultfontein, wil ’n dokter word. Hy het al vir die Noord-Vrystaat geswem en het die nasionale eindronde van Blitsbrein (top-30) gehaal.

Danielle Olivier, hoofmeisie van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem, het aan die ATKV-debatskompetisie deelgeneem. Dié veelsydige danser wil ’n dokter word. Sy is ’n lid van die skool se uitvoerende komitee.

Mariam Abdul-Ghaffar, ’n prefek aan die Hoërskool Ficksburg, het die vlak 3-noodhulp-eksamen geslaag en wil ’n dokter word. Sy speel tennis vir die skool en het aan die lewenswetenskappe-olimpiade deelgeneem. Foto: JOHAN VAN ROOYEN

Lettia Makhendoane, ’n lid van die matriekkomitee van die Hoërskool Ficksburg, wil in die gesondheidswetenskappe studeer. Sy het aan debat deelgeneem en speel tennis vir die skool. Foto: JOHAN VAN ROOYEN

Elri Corbett, hoofmeisie van die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem, wil medies studeer. Sy is onderhoofmeisie van die skoolkoshuis, is ’n vlak 1-hokkieskeidsregter en was hulpafrigter van die o.14A-span. Elri was ’n lid van die Noord-Vrystaatse hokkiespan.

Ziphenzihle Malinga van die Pietermaritzburg Girls’ High School het vir haar skool netbal gespeel, is portuurgroep-raadgewer en voorsitter van die skool se dansvereniging. Sy wil verder rekeningkunde studeer.
Inskrywings vir die 40ste Matrikulant van die Jaar-kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat (UV), Netwerk24 en Volksblad het gesluit.
Nou kan matrikulante begin fokus op die naderende rekordeksamen.
Prysgeld en beurse van meer as R235 000 is op die spel vir die 25 semifinaliste in die kompetisie waaraan gr. 12-leerlinge van oor die land heen, wat beoog om volgende jaar aan die UV te studeer, kan deelneem.
Die wenner en 13 finaliste ontvang prysgeld van die borge Kovsie Alumni-trust, Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walk, beurse van UV Studentewerwingsdienste, die eindronde-geleentheid in Bloemfontein, en geskenke ter waarde van R10 000.
Die ander 11 semifinaliste ontvang prysgeld van Kovsie Alumni-trust en beurse van UV Studentewerwing.
Altesaam 14 finaliste, wat uit die 25 gekies word, neem aan die eindronde van 5 tot 7 Oktober in Bloemfontein deel.
Tydens die eindronde word onderhoude met die finaliste gevoer en neem hulle aan spansessies deel waarna die wenner aangewys word.
Twee spesiale pryse van R5 000 elk word geborg deur Kovsie Alumni-trust en sal toegeken word vir uitstaande prestasie op die gebied van leierskap, akademie, sport of kultuur.