’n Bakkie is lankal nie meer ’n plaasvoertuig nie. Deesdae se bakkies is veel meer van ’n leefstylvoertuig as iets waarmee hooibale vervoer word. Maak dus gereed vir die land se eerste miljoenêr-bakkie, die Volkswagen Amarok 3.0 TDI, wat teen R996 000 net ’n paar sente duskant die magiese R1 miljoen-kerf is. Vir ’n bakkie.
Die Duitse vervaardiger het pas sy opgeknapte 3.0 liter-V6-diesel na die land gebring. Die enjin met sy spierbult-syfers van 190 kW en 580 Nm wringkrag vervang die vorige weergawe van die drieliter wat ’n meer gematige 165 kW en 550 Nm na al vier sy wiele gepomp het.
Die wringsyfer is basies onveranderd, maar dis die sprong van 165 kW na 190 kW wat die bakkie werklik ’n handvol sal maak. Terloops, slegs Mercedes-Benz se X-klas 350d (wat nie meer gebou word nie) sou met die Amarok kon saamgesels. Die X-klas se 3.0 liter-diesel het ook 190 kW gelewer, maar 550 Nm wringkrag.