As ironie ’n siekte was, dan was die hele streek van Katalonië Sondagaand lammer gelê as die tyd toe die koronavirus-doodsangel op sy giftigste was.
Dat ’n staat wat só ryk is aan kultuurerfenis en asemrowende argitektuur jaar ná jaar een van die seisoen se powerste Formule Een Grands Prix met metronomiese reëlmaat opdis, is ’n skreiende skande – en oorgenoeg rede om dié Spaanse spoed-stoet stop te sit.
Enige vooruitsigte dat die heersende Mercedes-span se onlangse hitteverwante Pirelli-pyne die reistog na Barcelona sou meemaak, is duidelik reeds by paspoortbeheer gestuit. Want die swartgeverfde Silwer Pyle kon ten spyte van die aanvanklik gevreesde Spaanse hitte in al die oefenrondtes seëvier. En dit toe opvolg met seker een van Lewis Hamilton se gemaklikste seges van sy loopbaan deur eerste weg te spring en daarna die verbysterde Red Bull-Honda van Max Verstappen met ’n loesing van 24 sekondes te laat les opsê.