Met drie rondes in vanjaar se Formule 1-kampioenskap reeds agter die blad, is bogenoemde steeds die enigste absolute waarheid wat uitstyg in die frustrerend-verruklike stryd om te ontsyfer watter een van die Mercedes of Red Bull vanjaar die vinnigste is.
Hoewel Mercedes se verdedigende kampioen, Lewis Hamilton, in die ren geseëvier het (en die 97ste van sy loopbaan); en nou een meer oorwinning in die 2021-sak het as sy medetitelprotagonis, Max Verstappen (Red Bull-Honda), was eersgenoemde se louere in der waarheid allesbehalwe gewaarborg.
Só weglaatbaar is die wenmarges; en só smal die pendulum geswaai tussen dié twee voorvegters, dat die naweek onderstreep het hoe élke mistrap bepalend in vanjaar se kroonstryd gaan wees.