Vergeet die langpad, sê Eben Human. Van Kaapstad se middestad volg jy net Strandstraat verby die stasie en in ’n japtrap is jy in Albertweg – die wêreld van ’n straatkunstenaar soos Bushy Wopp.
Helder kleure en kreatiwiteit straal uit Woodstock se straatkuns in ’n reis op jou agterstoep.
Dis hier waar jy die Kaapse Klopse-muurskildery van Chad Hanning sal vind. Sy illustrasies en skilderye het al baie aandag getrek en as jy meer oplettend raak, gaan jy nog Bushy Wopp-meesterstukke in die strate van die Moederstad vind.
Die lewe van straatkunstenaars is deesdae nie maklik nie en dit het nie noodwendig iets te doen met die derde vlaag van die Covid-19-pandemie nie. Regulasies wat in 2012 ingestel is, kan hulle nou verdoem tot tronkstraf.
So tussen die reënbuie deur is daar verlede week geglip na Woodstock. Enkele straatblokke ná die pragtige St. Mary’s-klipkerk sien jy ’n oop terrein aan jou regterkant met ’n olifant-skildery op ’n groot muur.
Dis waar Ashleigh Smith my nader en sy brief wys as gids vir straatkuns in Woodstock. Dit is sy geboorteplek en hy ken die mense wat hier in beheer is.
Ná hierdie gerusstellende woorde kon Ashleigh my aan die neus lei deur Woodstock se agterstraatjies met al sy interessante straatkuns.
Onder die skilderye is dié van ’n Amerikaanse vrou, Emily May Rose, wat twee jaar hier vertoef het. “Sy was baie erg oor raccoons,” vertel Ashleigh. “Dis nie eintlik goeie diertjies nie,” merk hy oor die wasbeertjies op.
Om af te sluit, gaan maak ons ’n draai by die geboue van die Woodstock Exchange in Albertweg. ’n Franse vrou verkoop hier heerlike roomys langs ’n klein kunsgalery en ons ontmoet ook Elad Kirshenbaum van Sidestreet Studios (sien sy webtuiste www.sidestreet.co.za).
Groot beleggers het al hul merk begin maak in Woodstock in ’n poging om dié deel van die stad nuwe lewe te gee. In die Exchange-gebou kry kunstenaars kans om goedkoop huisvesting te kry. Hulle kan ’n ruk hier werk en met hul kunswerke betaal.
Ashley wys my met trots ook die muurskildery van ’n ou veghond. “Die hond het hier geleef. Hy was baie oud.”
Dis Kirshenbaum wat my toe vertel dat daar sedert 2012 met streng regulasies meer beheer toegepas word op straatkuns. “As daar nou sonder die amptelike permitte ’n muurskildery op ’n openbare plek verskyn, kan die kunstenaar tronkstraf kry,” het hy verduidelik.
Kreatiewe kunstenaars, wat ook sjefs kan insluit, is die mense wat Kirshenbaum in Woodstock probeer aanmoedig. Sjef H (Heinrich Koen) is ’n groot bewonderaar van Bushy Wopp en dit is hy wat my sy kontakbesonderhede gegee het.
Die 30-jarige Chad Hanning het sy jeugjare in Kensington geslyt. Dit was op busritte na en van die skool wat hy straatkuns begin opmerk het. Dit was vir hom as jong grafiese student ook ’n inspirasie.
“Straatkuns is vir my ’n pretding. Ek geniet dit baie,” het Bushy aan my gesê terwyl ons ook gepraat het oor sy Kaapse Klopse-skildery in Woodstock.
“Vir my en baie ander straatkunstenaars was ons groot inspirasie Falco. Hy was soos ’n pionier vanaf die 1990’s vir Suid-Afrikaanse straatkunstenaars.”
Falco gebruik dikwels ’n olifant as sy tema en het reeds internasionale roem verwerf met sy kuns. Maar hoe het Bushy Wopp sy plek in Woodstock gekry?
“Ek moes eers met die plaaslike inwoners gaan praat. Ek wou hulle iets gee wat hulle kon inspireer. Die Klopse is so deel van ons Kaapse kultuur en herinner ons ook van ’n slawetyd aan die Kaap,” het Bushy verduidelik.
Dit word gou duidelik dat hierdie kunstenaar nie baie hou van regulasies wat kunstenaars beperk nie. Volgens hom plaas dit ’n onnodige demper op hul kuns. Die polisie het al terwyl hy besig was met ’n skildery sy verfblikke gekonfiskeer.
As kunstenaar het Bushy internasionale erkenning gekry. Dis nie toevallig dat hy al kunsklasse by die Internasionale Skool in Ho Chi Minh-stad in Viëtnam gegee het nie.
In Woodstock sal jy die kunstenaars se verskillende temas opmerk. Daar is sosiale en politieke kommentaar, asook natuurbewaring wat hul aandag trek.
Ashleigh het my die oorblyfsels gewys van ’n kunswerk waarmee die gewese Amerikaanse presidentsvrou Michelle Obama gesteun is in haar pleidooi om Nigeriese skoolmeisies te help bevry nadat hulle deur militante Moslems ontvoer is. Die bedreiging van ’n skaars kameelperd-spesie is ook al uitgebeeld.
’n Mens wil met Bushy saamstem dat ’n stad sonder openbare kuns maar ’n saai plek sal wees. Kaapstad verdien krediet vir al die muurkuns wat ons in die strate van Woodstock en Soutrivier kan sien – iets wat ook al oorgespoel het na sy townships.
My staptog saam met Ashleigh was baie stimulerend en Bushy prys hom as ’n man met goeie kennis van die plaaslike kunstenaars. Jy kan ook meer van Bushy Wopp se kuns sien op sy webwerf, www.bushywopp.com.
Vir jou olifant-jagtog in Woodstock het jy nie ’n geweer nodig nie. As jy eers die olifant langs Albertweg gevind het, kan jy maklik twee of drie blokke se straatkuns in die rigting van die stad verken. Vir veiligheid is dit beter om in ’n groep deur hierdie strate te stap as jy nie ’n gids soos Ashleigh Smith byderhand het nie.
- Bespreek Ashleigh se dienste deur Paul Livingstone van Woodstock Art Galery te bel by 079 066 2686.