Swartland: Tuis en lekker in die platteland

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die organiese wynplaas Org de Rac bied onder meer ’n heerlike oester-en-cap-classique-proe wat jy nie kan misloop nie.
Die organiese wynplaas Org de Rac bied onder meer ’n heerlike oester-en-cap-classique-proe wat jy nie kan misloop nie.

Dit neem ongeveer 40 minute om vanuit die Kaapse middestad na Malmesbury te ry, wat die hartjie van die Swartland is. Van daar af is ’n magdom wynbestemmings binne jou bereik.

Hierdie roete is so naby aan Kapenaars dat dit ideaal is vir ’n dagbesoek en naby genoeg is om vir ’n hele naweek te gaan kuier sonder om die petrolrekening die hoogte in te jaag.

Boonop bied die Swartland Wyn- & Olyfroete nie net gehaltewyne nie, maar ook heerlike olywe. Hier is iets van alles wat wissel van klein kelders wat spesialiseer en eksperimenteer, tot groter kelders wie se name aan almal bekend is.

Geborg deur:

Blake family Wines

Blake Family Wines is ’n boetiekkelder in die skilderagtige Yzerfontein en ’n baie gewilde toeristebestemming aan die Swartland en groter Weskus-streek. Kom proe van Woensdae tot Sondae hoekom hul wyn so gewild is, of kom sit aan vir handgemaakte pizza terwyl die kinders in die speelarea baljaar. Of bederf jouself met ’n kaas-en-kouevleis-bord wat jy self kan saamstel uit die heerlikhede vanuit die deli.

Op Saterdae is daar lewende optredes op die verhoog. Hou die sosialemediaplatforms dop vir wie wannneer optree.

Blake Family Wines se premiumreeks, Blakes, bestaan uit vier wyne, naamlik Amethyst, wat ’n Kaapse versnit is, Tourmaline, wat ’n wit versnit is, ’n Chenin Blanc en ’n Malbec. Die wyne uit hierdie reeks is almal wyn van oorsprong Swartland.

Die 16MILE Beach-reeks is vernoem na die 16 myl strand in Yzerfontein wat die langste ononderbroke strand in Suid-Afrika is. Hierdie reeks bestaan uit drie wyne, naamlik Rooipan Rosé, Swemgat en Blomtuin, en is vernoem na bekende plekke in Yzerfontein.

Blake Family Wines verwelkom alle blomkykers by die kelder met spesiale promosie-aanbiedinge tot einde September 2022. Kontak hulle gerus by 022 451 2701, per e-pos by info@blakefamilywines.com of besoek die webtuiste by www.blakefamilywines.com

Blaauw Cottage

Met ’n kontemporêre, omgewingsvriendelike ontwerp en pragtige dekor, is Blaauw Cottage die ideale basis om die Riebeekvallei vandaan te verken.

Blaauw Cottage bied selfsorgverblyf in ’n stil deel van die oulike dorpie Riebeek-Kasteel, slegs sowat ’n uur se ry vanaf Kaapstad.

Ervaar die pragtige ruimtes van die dubbelvolume oopplanleefvertrek met ’n kaggel en lugversorging, asook die groot onderdakstoep met ’n patiotafel en ingeboude braai. Die stoep loop uit na die privaat tuin en skitterblou plonspoel. Jy kan ook die konsertinadeure wyd oopmaak om die kothuis ’n buiteluggevoel te gee. In die goed toegeruste kombuis is ’n yskas/vrieskas, tweeplaatstoof, konveksiemikrogolfoond en Nespresso-masjien.

Die hoofkothuis het twee slaapkamers (albei met koningingrootte beddens) aan weerskante van die leefvertrek. Hierdie kamers is ’n spieëlbeeld van mekaar, wat dit die ideale blyplek maak vir twee paartjies wat wil deel. Albei kamers het staldeure wat oopmaak op die stoep.

In ’n gebou teenaan die hoofkothuis is ’n lugverkoelde solderkamer waar nog twee gaste kan slaap. Daar is twee enkelbeddens en ’n badkamer met ’n stort, of skuif die beddens langs mekaar vir ’n paartjie.

Blaauw Cottage is geleë in Van Riebeeckstraat in Riebeek-Kasteel.

Vir meer inligting, skakel gerus 083 268 1073.

Hier volg ’n paar plekke waar jy moet aanklop. Onthou om vooraf besoeke te beplan en reël, aangesien baie kelders slegs per afspraak oop is.

Wilhelm de Vries van Allesverloren. Foto: SWOR
Malmesbury

Hierdie is vir seker die tuiste van die wynroete en daar is verskeie kelders in en om die dorp. Dit is wat jy alles in die omgewing kan aanpak:

  • Hofstraat-wynkelder in Malmesbury is ’n garagiste-wynmakery en sy tuiste Myrtledene het onlangs uitgebrei en sluit nou ook ’n restaurant in. Café Myrtledene is oop vir middag- en aandete van Woensdae tot Sondae.
  • ’n Besoek aan die ikoniese Swartland-wynkelder, net buite Malmesbury, is beslis die moeite werd. Hul verskeidenheid wyne bied iets vir elke smaak.
  • The Hughes Family Wines se interessante wynkelder wat half ondergronds gebou is, is sowat 13 km noord van Malmesbury geleë. Dit is hier waar die pa-en-dogterspan Billy en Kiki Hughes hul passie vir wynmaak uitleef met die wynmaker Lize Norval wat die toon aangee vir hul natuurlike wyne wat onder die Nativo-etiket gebotteleer word. Wynproeë en keldertoere word op afspraak op uitgesoekte Saterdae aangebied.
  • Die historiese plaas Lammershoek waarvan die grense eens op ’n tyd tot teenaan die Kasteelberg naby Riebeek-Kasteel gestrek het, bied deesdae een maal per maand ’n Braai & Wyn Opedag aan waartydens smulpape hulle kan verlustig aan ’n heerlike spitbraai onder die koeltebome, met uitsigte wat tot by die horison strek.
  • Die Paardeberg is ook die tuiste van The Sadie Family Wines, wat wêreldwyd erkenning geniet as een van Suid-Afrika se topwynprodusente. Dit is hier waar Eben Sadie sy filosofie om vir die toekoms te boer, uitleef deur te eksperimenteer met die aanplant van onder meer druifsoorte soos alicante bouschet en garnacha tintorera.
  • Babylon’s Peak, verder af in die Aprilskloof, is waar die Basson-familie al vir vier generasies hul merk maak. Hier word daar nie net met wyndruiwe geboer en wyn gemaak nie, maar ’n volwaardig gesertifiseerde Vititec-wingerdstokkwekery word ook bedryf. Dit verseker natuurlik dat hierdie boerdery altyd aan die voorpunt van innovering bly.
  • Indien jy in die bui is vir lekker kuier, kan ’n ontspanne middagete op Kalmoesfontein, waar Adi Badenhorst van AA Badenhorst Family Wines sy wyne, meskal en eg Kaapse vermout maak, net die regte plek wees. Bespreek vooraf en geniet die vars gebakte brood en onpretensieuse disse uit Kalmoesfontein se kombuis saam met die kelderpersoneel.
  • Jasper Wickens van JC Wickens Wines se Swerwer-wyne het alreeds diep spore getrap in die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Die Paardeberg het in 2010 sy tuiste geword en dis ook hier waar hy sy vrou, Franziska, ontmoet het. Jasper en Franziska werk sy aan sy op die plaas Waterval in die Siebritskloof-gedeelte van die Paardeberg waar hulle ook ’n kelder gevestig het.
  • David en Nadia Sadie, die egpaar agter David & Nadia-wyne, werk sy aan sy op die plaas Paardebosch waar hul wyne gemaak word. Nadia fokus hoofsaaklik op die versorging van die grond, terwyl David omsien na die wingerd en die produksieproses. Alhoewel die David & Nadia-handelsmerk meestal op ou wingerde fokus, is hulle hard aan die werk om nuwe wingerde te vestig wat in die streek aard.
  • Nog ’n historiese plaas in die omgewing is Leeuwenkuil Family Vineyards­ wat op die grens tussen die Swartland- en die Paarl Wyn van Oorsprong-gebied geleë is. Die nuwe, moderne kelder is enige wynmaker se droom en beskik oor fasiliteite wat vermorsing in die produksieproses tot die minimum beperk.
  • Fynbos Estate, bekend vir sy veganiswyne en olyfolie wat verkoop word onder die Dragonridge-etiket, spog met volledig toegeruste selfsorgeenhede, asook geriewe vir die aanbied van werkswinkels en intieme troues. Die plaas grens aan die Simon Simons-natuurreservaat, ’n voëlkykparadys met staproetes wat deur fynbos kronkel en die belofte inhou van asembenemende uitsigte wat vir myle strek.
  • Wightman & Sons, Intellego, en City on a Hill is kleiner produsente in die omgewing wat spesialiseer in die maak van natuurlik gegiste wyne­ wat met die minimum inmenging­ in die wynmaakproses gemaak word. Hierdie wynmaakgier is besig om al hoe meer veld te wen en het al byna kultusstatus en -aanhang.
  • Die dorp hou ook First Fridays. Sommige van die wynprodusente wat gewoonlik slegs per afspraak oop is, bied gedurende die eerste naweek van die maand spesiale wynproeë aan as deel van die First Friday-veldtog. Elke Saterdag is daar ook die Langs-die-bos-mark in die Voortrekkersaal.

Riebeekvallei

Benewens uitstaande wyn, is die Swartland ook bekend vir sy olyfproduksie. Jy sal verskeie olyfprodukte hier kry.Foto: JACQUES MARAIS

Die tweelingdorpies Riebeek-Wes en Riebeek-Kasteel lê knus teen die hange van Kasteelberg, so ongeveer 20 km vanaf Malmesbury en is veral bekend vir sy olywe.

Hier is waar jy kan kuier:

  • Allesverloren se bekende shiraz en port-styl wyne is te proe by hul proelokaal in Riebeek-Wes. Die Malan-familie se historiese plaas het ook ‘n familie restaurant en spog met ’n onthaalsaal en buitelug bos-kapel. Pleasant Pheasant Restaurant is oop van Woensdae tot Sondae.
  • Net om die draai het Marras-wyne onlangs ’n restaurant oopgemaak waar besoekers die wyne van die opwindende nuwe produsent kan proe.
  • Christa von Chevallerie van die Huis van Chevallerie, die vonkelvrou van die Swartland, is ook tuis in Riebeek-Wes en bied per afspraak proeë aan van haar Cap Classique en ander wyne.
  • Pulpit Rock Wynkelder se 4km (retoer) voetslaanpad begin agter die proelokaal en kronkel deur berg fynbos tot bo-op die kruin van Kasteelberg en verras met asembenemende uitsigte. Stappers moet liefs vooraf by die proelokaal registreer voor hul die roete aandurf. ’n Wynproe van hul wye reeks wyne word ook aangebied.
  • Die Riebeek Valley Wine Co Tasting Emporium in Riebeek-Kasteel se middedorp is ’n lekker kuierplek. Stapafstand van al die klein winkeltjies in die Hoofstraat kan mens nie net die wyne van die kelder daar proe nie, maar ook aansit vir iets te ete.
  • Langsaan bedryf plaaslike wynkenner Anton Estpost die Wine Kollective, ’n spesialis wynwinkel wat net wyne uit die Swartland verkoop. Hier kan skaars wyne bekom word van kelders wat weg van die hoofroetes in die streek geleë is. Kelders soos Porseleinberg en Rall-wyne se wyne is hier te koop. Beide hierdie twee kelders is slegs oop per afspraak.
  • ’n Olyf- en olyfolieproe by die Olive Boutique in Riebeek Wes is ’n onvergeetlike ervaring. Dit is waar eienaars Derek en Susan hul kennis met ongeëwenaarde passie deel.
  • ’n Hanetree van daar is die Het Vlock Casteel winkel van die Vlok-familie waar die rakke swaar gelaai is met die lekkerste olyf-, ingelegte produkte en tuisgebak. Die perfekte plek om jou spens se voorraad aan te vul.
  • Kloovenburg Wyn- & Olyflandgoed spog met twee nuwe toevoegings tot hul aanbieding, die familie vriendelike Kringe in die Bos Restaurant langs die proelokaal en Eight Feet Village, ’n modern koffiewinkel en restaurant geleë in Botmaskloofpas. Die uitsig van daar oor die Riebeekvallei nooi mens om vir ure daar te kuier. Olyf- en wynproeë kan steeds by die proelokaal geniet word. Die Kloovenburg Pastorie is ’n luukse gastehuis op die plaas.
  • Die plaas Roundstone op die Reibeeksrivierpad, aan die Weste van Kasteelberg, is die tuiste van Mullinieux Wyne. Dit is hier waar Chris en Andrea Mullinieux hul passie vir wyn uitleef deur volhoubaar te boer met wingerde wat afwisselend met stroke fynbos aangeplant word. Die kragpaar geniet internasionale bekendheid in wynkringe en is ware ambassadeurs vir die Swartland. Besoeke aan die plaas is slegs per afspraak.
  • Verder af op die grondpad is die afdraai na Yellowwood Winery waar Alan Cooke ’n splinternuwe kelder opgerig het. Dié kelder is die tuiste van Alan se Aspoestertjie-wyne en is ook waar ander wynmakers soos Donovan Rall en die jong wynmaker Tim Hillock hul wyne maak.

Pulpit Rock is net die plek vir avontuur­lustiges met hul stap­roete. Ná die tyd kan jy ’n glasie wyn geniet om te ontspan. Foto: SWOR
Piketberg

In die uitgestrekte noordelike gedeelte van die Swartland Wyn & Olyf-roete lê die bekoorlike Swartlandse dorpies Koringberg, Piketberg en Eendekuil.

Kom proe die besonderse wyne van die streek en verken die natuurskoon langs die Bergrivier en by Piket-bo-Berg (die gebied bo-op Piketberg se berg) waar vrugte- en proteaplase sy aan sy staan. Klop gerus hier aan:

  • Koringberg, of Die Vrye Republiek van Koringberg soos daar tong in die kies na dié dorpie verwys word, is die tuiste van Wildehurst-wyne. Die keldertjie is knap by die ingang van die dorp geleë en spesialiseer in die maak van natuurlike wyn. Joanne Hurst en Riaan van der Spuy is die eienaars. Joanne het in 2006 ’n wingerd in haar tuin geplant wat uit 90% shiraz en 10% viognier bestaan het, en in 2009 is Wildehurst se eerste wyn gebotteleer.
  • Verder noord is Org de Rac se proelokaal en wingerde langs die Bergrivier. Die plaas is een van die eerste wynplase in die Swartland wat gesertifiseer is as organies. Dit beteken dat geen chemikalieë in die wingerd of in die olyfboorde gebruik word nie. Stop gerus hier vir ’n luilekker piekniek en bewonder die pragtige, uitgestrekte uitsig oor die golwende Swartland-landskap. Hulle bied ook ’n heerlike oester-en-cap-classique-proe, ’n sjokolade-en-rooiwynproe, asook ’n nougat-en-witwynproe.
  • Johan Meyer van JH Meyer-wyne is die eerste wynmaker wat homself bo op Piketberg, oftewel Piket-bo-Berg gevestig het waar hy pionierswerk doen en het die eerste wyndruifwingerde aangeplant en ’n kelder gebou op die berg. Thinus Krüger van FRAM het onlangs Johan se buurman geword en is ook tans besig met die aanbou van ’n kelder.
  • Anderkant Piketberg, op pad na Elandsbaai, lê Schenkfontein. Dié spogplaas aan die voet van die majestueuse Piketberge, is vernoem na mnr. Schenk, ’n skoolmeester wat destyds die plaaskinders in die omgewing onder ’n granaatboom onderrig het. Dit is hier waar die Hanekom-familie woeker met hul talente. Hendrik Hanekom is aan die stuur van die kelder waar daar wyn gemaak word vir Schenkfontein en Winkelshoek, ’n vertakking van die familiebesigheid.
  • Aan die voet van die Piekenierskloofpas is die afdraai na Banditskloof, die tuiste van Testalonga-wyne. Craig en Carla Hawkins maak reeds sedert 2008 hul eie wyn van wingerde wat hulle huur in die Paardeberg- en Piketberg-omgewing. In 2015 het hulle Banditskloof gekoop en in 2018 hul eie druiwe hier aangeplant. Testalonga se natuurlike wyne word met die grootste sorg en minimum inmenging vir hul El Bandito- en Baby Bandito-wynreekse gemaak.
  • Ander besienswaardighede en aktiwiteite in die omgewing sluit in die Piket-bo-Berg-plaasmark op Kruistementvlei die laaste Saterdag van elke maand, die Koringberg-mark die eerste Saterdag van elke maand, en verskeie bergfiets- en staproetes by Koringberg en bo-op Piketberg.

Gaan loer gerus na die webblad www.swartlandwineandolives.­co.za of skakel 022 487 1133 om meer uit te vind oor hierdie besonderse wynstreek en alles wat daar in die omgewing te sien en te doen is.

    besig om te laai... Regstreeks
    Durban Super Giants 0
    Sunrisers Eastern Cape 30/2
    Rand - Dollar
    17.48
    -2.3%
    Rand - Pond
    21.07
    -0.8%
    Rand - Euro
    18.88
    -1.2%
    Rand - Aus dollar
    12.10
    -0.1%
    Rand - Jen
    0.13
    -0.4%
    Platinum
    973.57
    -5.0%
    Palladium
    1,621.00
    -2.9%
    Goud
    1,865.26
    -2.5%
    Silwer
    22.34
    -4.8%
    Brent-ruolie
    82.17
    -0.8%
    Top-40
    74,082
    +0.6%
    Alle aandele
    80,241
    +0.6%
    Hulpbronne 10
    75,186
    +0.7%
    Industriële 25
    103,461
    +0.8%
    Finansiële 15
    16,550
    0.0%
    Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
    Blitsblik op ’n maatskappy

    Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

    Verkeer in jou area

    Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

    Klik om te stel
    Nuuswenke

    Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

    Stuur 'n e-pos