Vat pad na Weskus op ’n sonskyndag

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Visserman besig om sy nette reg te kry vir harders trek. Die oeswerk vind in die nag op die Bergriviermond plaas. Foto’s: EBEN HUMAN

Die Weskus kan jou in die winter wink vir ’n daguitstappie, meen Eben Human. Tussen al die reëndae is daar altyd ’n helder sonskyndag wat in iets baie spesiaal kan ontwikkel.

Dis lekker om in die winter die reën op jou sinkdak te hoor dreun. Dik groentesop wat op die stoof prut, ’n lekker boek en ’n glasie rooiwyn moet dan help om die koue te verdryf. Tog smag mens steeds na sonskyn en buitelug.

Nuwe streng Covid-regulasies wat vir twee weke geld, laat jou darem wel toe om die buitelug te geniet. Beplan jou Weskus-uitstappie met dit in gedagte.

Op die Weskuspad van die Moederstad na Velddrif is daar baie afdraaie wat wink. Gaan leer van die San by !Khwa ttu of meer van die oergeskiedenis by die interessante Weskus Fossielpark naby Hopefield.

So word die bokkoms gedroog langs die Bergrivier by Velddrif. Maak ’n draai by Bokkomlaan as jy meer hiervan wil sien.

Die weervoorspelling was 100% korrek en verlede Donderdag was toe ’n mooi sonskyndag. Ons ry eers reguit na Bokkomlaan op Velddrif. Drie eensame pelikane sit daar en wonder waar al die toeriste is terwyl die Velddriwwers besig is om vragte bokkoms te verwerk.

Ons volgende stilhouplek was die Velddrif-hotel waar ons koffie geniet op sy dek. Die gewilde Bergrivier-kanomarathon eindig jaarliks hier. Dit sal weens die nuutste Covid-regulasies moontlik eers vroeg in Augustus beslis word. Hou Die Burger dop vir nuus hieroor.

Daar was al dae wat ek kon sien hoe die vissermanne vragte snoek op die kaai by St. Helenabaai aflaai. Dié slag is die kaai verlate en ons ry aan vir middagete by die Shelley Point-hotel met sy mooi gholfbaan.

Die spyskaart was indrukwekkend met ’n groot verskeidenheid. Pasta, pizza en tradisionele geregte soos bobotie, tamatiebredie en vis-en-skyfies lyk lekker, maar die kelner was waarskynlik verbaas dat my keuse bokkoms was.

Twee bokkoms is lekker ligte eetkos eie aan die Weskus. Sy fyn graatjies sal seker party mense afskrik.

Die Stellenbosser Siziphiwe Mgu het die Weskus-ete bedien by die Shelley Point-hotel by St. Helenabaai. Die spyskaart sluit ook in kreef en ander seekos, tradisionele bobotie en tamatiebredie, pizza, pasta, Belgiese wafels en nog meer.

Maar toe wou ek ook vir my Weskus-artikel ’n foto van die kelner neem wat ons bedien. Met die fotonemery vra ek haar naam – sy is Siziphiwe Mgu en van geboorte ’n Stellenbosser. In haar hoërskooldae het sy elke dag trein gery na die Hoërskool Windemere waar sy gematrikuleer het.

En haar reisdrome? “Meneer, ek droom van die eerste dag wat ek tot bo op Tafelberg gaan. Ook van ’n eerste besoek aan Robbeneiland. Dit is mos maar plekke wat al ons Kapenaars almal graag wil sien.”

Die Shelley Point-hotel bied aan gaste interessante aktiwiteite. Jy kan hier gaan perdry, op ’n kajak in die rustige St. Helenabaai gaan roei en op ’n daguitstappie na Paternoster en ander plekkies gaan.

Die personeel gaan wys ons die mooi slaapkamers. Alles lyk luuks – net die plek waar jy iemand goed kan bederf.

Ons ry hierna deur die aangrensende woonbuurt om te gaan dophou hoe ’n paar manne branders ry. Wintertyd is die beste tyd in die Kaap vir branderry. Groot storms op die diepsee en sterk winde krap die see dan lekker om.

So is daar verlede week op die branders baljaar by Shelley Point aan die Weskus. Die branders van St. Helenabaai is in die wintermaande meer hanteerbaar as by Elandsbaai.

Een van die branderryers merk aan my op: “Ons wou vanoggend na Elandsbaai gaan, maar telefonies het hulle ons laat weet dis te woes. Bly maar by Shelley Point waar die branders meer hanteerbaar sal wees.”

So kruip die Weskus nog dieper onder ons vel en ons besluit om weer ’n slag ’n draai op Paternoster te maak. Daar lyk party dinge toe nog net dieselfde – soos die hotel wat Johan Carosini in 1973 gekoop het. Bietjie later was daar die Panty Bar en die smokkelaars wat kreef en perlemoen aan jou probeer verkoop…

My gedagtes gaan terug na meer as 40 jaar gelede toe Die Burger-fotograaf Gert Vosloo my vergesel het op ’n eerste besoek aan Paternoster. Hy neem my toe reguit na die kroeg van Carosini se hotel waar ’n man met ’n groot hoed en lang hare besig was om musiek te maak.

* LEES OOK: Noord-Kaap ’n eindelose bron van avontuur

* LEES OOK: Ontdek straatkuns in die Moederstad

Die musiekmaker stel toe voor ons moet liewer vir ene “Moses” in Tietiesbaai gaan afneem. Hy ry saam en ons vind die bebaarde man in sy sakklere by sy woonwa – en hy is op ’n ander stasie en baie skerp. Op my vraag of hoekom hy dan so alleen bly, antwoord Moses vinnig: “Ek is independentindependent soos Robert Mugabe!”

Die musiekmaker die dag was toe niemand anders as die skrywer Johan Bakkes nie. Oepse daisy, en toe begin hy op en af wieg terwyl hy op sy trekklavier speel! Iemand merk op dat Bakkes hom seker verbeel hy is Clint Eastwood op sy perd. Dis toe wat Moses laat waai met: “Clint Eastwood het nooit op ’n perd gery nie. Dit was altyd ’n muil!”

Ontspan langs die see by ’n restaurant in Paternoster. Die Weskus-dorpie was ’n plek wat baie deur wyle Johan Carosini as plaaslike hoteleienaar aan die buitewêreld bekend gestel is.

Nou ja – die jare het aangestap – ook op Paternoster. Die rooidak-restaurant langs die see trek ons aandag en ons sluit die besoek af met tee en kaaskoek.

Die volgende oggend onthou ek van Woensdag se koerant wat ek nog moes lees en Die Burger se voorblad ruk my met: “Weskus-legende van Paternoster sterf.”

Ja – die dierbare Johan Carosini is oorlede – ’n man wat so baie vir Paternoster en sy omgewing beteken het. Rus in vrede Weskus-klong – die Weskus gaan nooit weer heeltemal dieselfde wees nie.

Gaan groet die pelikane by die Bergrivier en kyk ook uit vir flaminke en visvangertjies. Besoek die Weskuspark vir meer voëllewe.


GEBORG

Shelley Point-hotel en -spa

Shelley Point-hotel
Shelley Point-hotel

Verruil die stad vir ’n rustige Weskus-wegkomkans met die beste winterweer in die Kaap! The Shelley Point Hotel & Spa bied nou ’n winter-aanbod waar jy ongeveer 25% spaar op hul normale tarief. Dit is geldig tot 31 Augustus 2021, so bespreek nou jou plek. Daar is beperkte kamers beskikbaar op hierdie aanbod. Bepalings en voorwaardes geld.

besig om te laai... Regstreeks
Bangladesh 0
Pakistan 188/2
Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
16.10
-1.0%
Rand - Pond
21.32
+0.2%
Rand - Euro
18.21
+0.3%
Rand - Aus dollar
11.28
+0.2%
Rand - Jen
0.14
+0.3%
Goud
1,783.48
0.0%
Silwer
22.55
0.0%
Palladium
1,816.00
0.0%
Platinum
936.31
0.0%
Brent-ruolie
69.88
+0.3%
Top-40
64,307
-0.4%
Alle aandele
70,808
-0.3%
Hulpbronne 10
66,503
-1.6%
Industriële 25
93,791
+0.1%
Finansiële 15
13,982
+0.7%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos