Die lente-uitgawe van Taalgenoot is propvol vars inhoud wat vir jou ’n baken tussen die beurtkrag deur sal wees.
Die sprokiesmooi Cintaine Schutte roep as Sneeuwitjie die winter vaarwel toe op ons voorblad en deel hoe die afgelope jaar haar van donker én lig geleer het.
Ligbringer dr. Imtiaz Sooliman vertel hoe Gift of the Givers drie dekades nadat hy dié organisasie gestig het, die liggie aan die einde van iedere donker tonnel geword het – nie net ter plaatse nie, maar ook duskant ons landsgrense.
Terwyl organisasies sonder winsbejag ál meer van die pligte oorneem wat eintlik die regering se verantwoordelikheid is, vra ons elders in die uitgawe of die politiek in sy geheel nie maar met meer as ’n snarsie sinisme bejeën behoort te word nie.
Taal kom ook onder die soeklig: in een artikel kyk ons na hoe Frans die belangstelling van Afrikaanssprekendes prikkel, terwyl taalkenners in ’n ander storie ondersoek instel na die invloed van sogenaamde “Mengels” op Afrikaans.
Oudergewoonte loer ons weer na opwindende ATKV-projekte, onder meer ATKV-Applous, die ATKV-Woordveertjiewenners wat onlangs bekend gemaak is en die wonderlike werk wat ons takke doen.