Sy stap elke dag ’n pad met depressie – soms is sy meer bewus daarvan as ander tye, sê die aktrise Amalia Uys. “Maar my genetiese samestelling speel ’n groot rol. My suster ly aan skisofrenie en my broer stap ook ’n pad met depressie. Aan die een kant is dit in my gene en dan is daar ander, eksterne faktore.”
Op hoërskool is sy erg geboelie, vertel Amalia. “So iets ruk jou tot in jou wese, jy bevraagteken wie jy is. En al het my ma, my eie vriendekring, selfs my onderwysers my ondersteun en opgebou, was daar weer hierdie groot groep wat my afgebreek het.”
En vir ’n sensitiewe siel, en veral vanweë haar gene, het sy stelselmatig begin sukkel. “Ek het gevoel ek is nie waardig genoeg nie en het kleiner en kleiner geword binne myself. Op ’n dag in standerd nege moes ek ’n voorlegging doen – ek het opgestaan en vir die heel eerste keer in my lewe stage fright ervaar. Ek kon nie praat nie, ek kon skaars asem kry en my mond was droog. En almal het na my gekyk. Dit was ’n angswekkende oomblik.”