Gedurende Desember en Januarie is die weer lekker warm. Dit is vakansietyd, die sonnetjie skyn en jy bring meer tyd in die buitelug deur, maar drink dikwels nie genoeg vloeistof om gehidreer te bly nie. Dit kan beteken dat jy ontwater, wat nagevolge vir jou gesondheid kan inhou.
Magda Pieters, ’n geregistreerde dieetkundige in Bellville, meen jy is in die vakansietyd uit jou gewone roetine, soms weg van die huis af, en fokus op ander opwindende goed.
“Jy doen, eet en drink ook anders as normaalweg. Dit kan wissel van meer aktief wees, tot mense wat meer ontspan en sit as gewoonlik. Ons somervakansie behels meer tyd of aktiwiteite buite in die son, wat jou onwetend meer laat sweet. Dit kan jou laat ontwater omdat meer vog uitgeskei word, en saam met die sweet ook minerale soos kalium, natrium en chloried. As jy swem of watersport doen, of op die strand is, besef jy gewoonlik nie jou liggaam smag na water nie, want jy koel jouself af deur te swem.