Sy loop al sedert haar tienerjare ’n pad met die swart hond, sê die sangeres Charlize Berg oor haar depressiereis. Sy erken openhartig dat sy ’n sensitiewe kunstenaarsiel is, ’n emosionele mens wat dinge diep ter harte neem – en dat alles dan uiteindelik verskriklik swaar op haar skouers rus, skryf Haidee Muller-Isaacs
Op skool reeds het sy deurgeloop onder ’n paar van die juffrouens. “Ek is hier en daar nogal geboelie. En al het ek ’n paar skoolvriende gehad by wie ek baie gelukkig en veilig was, het ek soms baie alleen en misverstaan gevoel,” vertel die pragtige sangeres Charlize Berg vir Kies die lewe-aanbieder, Ivor Swartz (VIA, DStv-kanaal 147).
“Die mense om my het glad nie verstaan wat dit behels om ewe skielik hierdie massiewe musiekbedryf te betree as ’n werkende kunstenaar nie. Ek moes aan groot produksies en met groot kliënte werk en daar is baie verwag van my,” vertel sy. Oor die feit dat sy baie geïsoleerd gevoel het as kind, kon Charlize as tiener nooit werklik praat nie. “Dis ’n baie groot ding om daardie deel van jouself te deel met ander wat glad nie die vaagste benul het waardeur jy gaan nie. Dit was uitdagende tye in my lewe.”