Probleme met jou tande of ’n seer mond is nie net ongemaklik nie, maar kan ook tot ander siektes lei.
Dr. Johann Lochner, ’n spesialis in mondgeneeskunde en periodonsie in Somerset-Wes, sê periodontitis is ’n infeksie van die tandvleis en been rondom ’n persoon se tande. “Hierdie geïnfekteerde ondersteunende been en tandvleis word deur die infeksie vernietig, word al minder en die tande raak geleidelik al hoe meer los. Indien die infeksie nie behandel word nie, word die tande so los dat dit seer raak en verwyder moet word.
“Periodontitis veroorsaak nie net tandverlies nie, maar kan ook ’n geweldige negatiewe uitwerking op jou algemene gesondheid hê.”