Hoe het jy jou heel eerste aanbiedersrol ervaar?
Dit was die eerste keer dat ek so iets doen. En tot vandag toe kan ek van die episodes self nie kyk nie. Ek weet wat die omvang van emosies was by ’n spesifieke gas saam met wie ek en die sielkundige Mariaan Prins gesit en gesels het. Ek het wel al kort stukkies saam met my vrou, Nadine, gekyk – sy vind dit baie interessant. Dit neem my dadelik terug na daardie spesifieke dag en die emosies wat daar in die vertrek was terwyl ’n gas vertel het waarmee hy of sy worstel. Wat die program self betref – ek kry heelwat positiewe terugvoer van kykers wat sê dat dit werklik so nodig is om oor depressie en geestestoestande te gesels. En baie mense sê vir my dat hulle lank gewag het vir so ’n soort program op TV.
Wat het jy self geleer uit hierdie ervaring?
Jy kan mense in koerante en tydskrifte of op TV sien, maar jy weet nooit van die donkerte waarmee hulle self worstel nie. Dit het my net weer eens laat besef: Don’t judge a book by its cover. En dis belangrik dat jy eers na mense se stories moet luister voordat jy ’n oordeel fel. Daar is altyd ’n storie agter mense se gedrag – hulle mag dalk glimlag omdat hulle in die kollig is, maar dit beteken nie alles is wel met hul geestesgesondheid nie.
Watter onderhoude het vir jou uitgestaan?
Daar is drie onderhoude wat vir my uitstaan: Die een met Brenda Klopper, die jong vrou wat vertel het hoe die samelewing geneig is om etikette op mense te plak. Brenda is as kind met spastiese dubbelsydige serebrale verlamming gediagnoseer en is vandag aan ’n rolstoel vasgekluister. Brenda het my so geïnspireer toe sy vertel dat ons almal eintlik in rolstoele sit. Ons almal het een of ander ding wat ons gevange hou of as’t ware, nes sy, aan ’n rolstoel vaskluister. Tog is sy ’n bewys dat ons steeds die lewe kan kies, ongeag ons omstandighede. Die wysheid waarmee Brenda haar gestremdheid hanteer, was vir my net amazing.
Dan is daar die onderhoud met Lu Nieuwoudt wie se laatlamseun se depressiestryd uiteindelik tot sy selfdood gelei het. Wat veral vir my uitstaan, is die manier hoe sy die rou einas van haar verlies moes deurwerk. En hoe sy nou haar eie seer as voertuig van hoop gebruik om ander te help.
Die storie van die sanger en liedjieskrywer André Juan was ook vir my besonders. Hy is as kind deur sy aanneempa gemolesteer en het al ’n paar keer probeer om sy eie lewe te neem. André het in latere jare dwelms misbruik as sy enigste troos. Dit wat met hom gebeur het, is baie erg, maar hy het bewys dat ’n mens daardeur kan kom. ’n Vriend wat hom eintlik net op Facebook leer ken het, het uiteindelik tot sy redding gekom en aan hom bewys dat daar wel ander is wat vir hom omgee en vir hom sal baklei. Daardie episode het my werklik gebreek. Ek moes ná daardie episode net eers tyd op my eie spandeer – André se storie het aan my hart geraak omdat ek self eens op ’n tyd selfdoodneigings gehad het. Dit het my teruggeneem na daardie dag van 29 Julie 2013 toe ek met sulke gedagtes gewroeg het en hoe ek op die ou end self die lewe gekies het. Dit het my ook laat dink oor die feit dat ek mense gehad het wat ek kon bel om vir my te bid. André het niemand gehad nie en op die dag toe hy sy eie lewe wou neem, het ’n vreemdeling gebel en sy lewe heeltemal verander.