Met Nasionale Ekseemweek wat vandeesweek van 14 tot 18 September gedenk word, is die fokus om bewusmaking en begrip vir atopiese ekseem te skep asook respek te toon aan mense wat met die siekte saamleef en hul gesinslede.
“Atopiese ekseem is ontsettend moeilik vir pasiënte en hul gesinne. Dit het ’n ernstige uitwerking op hul daaglikse lewe en tas uiteindelik selfs hul lewensgehalte aan,” sê dr. Alicia McMaster, mediese hoof van die spesialiteitsorgeenheid by Sanofi Suid-Afrika.
Atopiese ekseem, ook bekend as atopiese dermatitis (AD), is een van die vorms van ekseem, ’n chroniese, inflammatoriese velsiekte wat gekenmerk word deur onvoorspelbare opvlammings en gedeeltelik aangedryf word deur ’n wanfunksie in die immuunstelsel.