Luister gou hier: dís wat jy alles van ’n gehoortoets moet weet

akkreditasie
’n Suiwertoontoets behels dat jy oorfone dra, verskillende frekwensies klanke hoor, en dan op ’n knoppie druk wanneer jy ’n spesifieke toon hoor.                                                              Foto’s: ISTOCK
’n Suiwertoontoets behels dat jy oorfone dra, verskillende frekwensies klanke hoor, en dan op ’n knoppie druk wanneer jy ’n spesifieke toon hoor. Foto’s: ISTOCK

Wanneer jy gebore word, word jou gehoor gewoonlik in die hospitaal getoets. Dit beteken egter nie dat dit die laaste keer moet wees dat jy dit laat toets nie.

Volgens Carien de Jager, ’n oudioloog van Carien de Jager Audiology in Worcester, verskaf ’n gehoortoets ’n meting van jou gehoorsensitiwiteit oor ’n reeks frekwensies.

“Om die beste resultate te verseker, word die toets in ’n klankbehandelde omgewing deur ’n oudioloog uitgevoer. Dit gee jou ’n duidelike beeld van die vlakke van jou gehoor oor die spektrum van klank.”

Wat behels ’n gehoortoets?

Carien sê ’n gehoortoets bestaan uit drie komponente.

“Die onderhoud waarin die oudioloog die mediese en familiegeskiedenis ondersoek, asook moontlike oorsake van die gehoorverlies. Enige medikasie wat jy daagliks neem, kan ook ’n invloed op jou gehoor hê. Dié faktore het almal ’n invloed op jou gehoor. Ons vra ook oor die omstandighede waarin jy sukkel om te hoor en hoe dit jou lewe beïnvloed. Die toets self bestaan uit verskeie toetse. Die oudioloog sal eers seker maak dat jou oorkanaal skoon en oop is. Enige was in die oorkanaal sal verwyder word.”

“Die tweede toets is die timpanogram – dit kyk na die lugdruk in jou middeloor en beweging van jou oordrom. Dit gee oudioloë ’n idee van die gesondheid van jou middeloor en of daar vog teenwoordig is, of dalk ’n gaatjie in jou oordrom.”

Dr. Tanja Beeton, ’n oudioloog in Durbanville, voeg by dat hierdie toets die toestand van jou middeloor evalueer en die beweeglikheid van jou trommelvlies toets.

Volgens dr. Beeton word ’n gehoortoets saamgestel deur ’n battery verskillende toetse.

“Die oudioloog sal ’n suiwertoontoets uitvoer nadat die visuele ondersoek afgehandel is; dit kontroleer jou vermoë om verskillende suiwer tone te hoor wat dan die mate van gehoorverlies aandui. Jy dra oorfone waardeur verskillende frekwensies klanke gespeel word, en druk dan op ’n knoppie wanneer ’n spesifieke toon gehoor word. Elke oor word individueel getoets en daarna word die resultate as ’n oudiogram geïllustreer.”

Carien sê hierdie twee toetse gee die oudioloog ’n diagnose van die oorsaak van jou gehoorverlies.

Dié gehoorverlies kan in drie groepe opgedeel word:

 • Konduktiewe gehoorverlies: Die gehoor deur die oordrom en middeloor is swakker as die gehoor deur die been.

 • Sensories­neurale gehoorverlies: Die gehoor deur die middeloor en been is dieselfde, maar nie by normale vlakke nie.

 • Gemengde gehoorverlies: Daar is ’n komponent van konduktiewe en senuwee-doofheid.

Dr. Beeton meen dit mag nodig wees om ook ’n beengeleidingstoets uit te voer.

“Dit meet jou vermoë om suiwer tone te hoor, met die hulp van ’n beengeleier wat agter die oor geplaas word. So word enige probleme in die middeloor geïdentifiseer.

’n Spraakdiskriminasie-toets word ook by die gehoortoetsbattery ingesluit en word gebruik om enige probleme met jou gehoorsenuwee te identifiseer; dié senuwee stuur seine van jou oor na jou brein en help om die klanke wat jy hoor, in verstaanbare woorde of spraak te vertaal.

Die laaste deel van die afspraak word bestee om die resultate aan jou te verduidelik en te verseker dat jy die aard en graad van die gehoorverlies verstaan, verduidelik Carien.

“In sommige gevalle is daar mediese behandeling vir die gehoorverlies – soos in die geval van sommige konduktiewe gehoorverliese. Ons verwys jou dan na ’n oor-, neus- en keelspesialis vir behandeling. Indien daar geen mediese behandeling nodig is nie, sal die oudioloog moontlike gehoorapparate bespreek en kyk na ’n oplossing om jou te help om jou gehoor te verbeter.”

Hoofkomponente van ’n gehoortoets

Carien sê dié komponente sluit in:

  •  Onderhoud, toetsing en bespreking van die resultate en moontlike oplossings;
  •  Otoskopiese ondersoek (liggie in die oor om te kyk vir was);
  •  Timpanometrie – kyk na die gesondheid van die middeloor;
  •  Suiwertoon- lug en been – kyk na die vlakke van die gehoor by die verskillende frekwensies;
  •  Spraaktoetse – kyk na die vlakke waar jy spraak kan verstaan en ook spraak in geraas.

Hoe gereeld jy vir ’n gehoortoets gaan?

“Indien gehoorverlies by jou gediagnoseer word, is dit raadsaam om jaarliks jou gehoor te monitor en ook jou gehoorapparate in te laat stel volgens die nuwe resultate om te verseker dat jy die beste resultaat met jou gehoorapparate kan kry.

“Indien jou gehoor normaal is, kan dit weer oor vyf jaar getoets word of so gou jy oplet dat daar ’n verswakking in jou gehoor is of jy begin sukkel om spraak duidelik te hoor,” sê Carien.

As jy met oormatige oorwas sukkel, laat jou huisdokter of plaaslike oor-, neus- en keelarts jou ore ten minste twee dae voor jou gehoortoets uitspuit.

Moets en moenies voor jy ’n gehoortoets ondergaan

Dr. Beeton verskaf die moets en moenies:

Moets

 • Maak ’n lys van jou mediese geskiedenis asook enige chroniese medikasie en aanvullings; sommige medikasies kan sensorineurale gehoorverlies veroorsaak.

 • Dit is altyd ’n goeie idee om ’n familielid of vriend saam te bring omdat hulle ’n unieke insig kan lewer ten opsigte van jou gehoorvermoë, aangesien hulle gereeld met jou kommunikeer.

 • Maak jou ore vooraf skoon met ’n warm waslap. Indien jy gereeld met oormatige oorwas sukkel, is dit goed om jou ore deur jou huisdokter of plaaslike oor-, neus- en keelarts te laat uitspuit ten minste twee dae voor die tyd. Moenie oorstokkies gebruik of enigiets kleiner as jou elmboog in jou oor plaas nie, aangesien dit jou ore maklik kan beskadig.

 • Indien jy al voorheen by ’n ander oudioloog was vir ’n gehoortoets, kan dit van waarde wees om enige vorige oudiogramme saam te bring na jou afspraak.

Moenie

 • Dit is al goed vasgestel dat voortgesette blootstelling aan harde geluide jou gehoor kan beskadig. As deel van jou gehoortoets sal die oudioloog die minimum drempel bepaal waarteen jy suiwer tone en gesprek kan hoor. As jy onlangs aan harde geraas blootgestel is, herstel jou ore nog en kan dit die resultate van die gehoortoets beïnvloed. Vermy enige geraas harder as ’n stofsuier vir ongeveer 12 uur voor jou gehoortoets.

 • Allergieë, verkoues, sinus- of oorinfeksies kan vloeistof in jou oor veroorsaak. As deel van die toets sal die oudioloog die funksie van die verskillende dele van jou ore wat by gehoor betrokke is, toets. As jy vloeistof in jou oor het, kan dit moontlik toetsresultate affekteer. Herskeduleer liewer jou afspraak indien nodig.

“Ná ’n gehoortoets, vra jou oudioloog oor die verskillende gehoorbehandelingsoplossings wat beskikbaar is, indien nodig,” sê dr. Beeton.


GEBORG

Sylvia Richards and Associates

Sylvia Richards and Associates

Sylvia Richards and Associates bied omvattende gehoordienste soos gehoortoetse vir jonk en oud, gerugsteun deur professionele diens en kennis om die graad en vorm van gehoorverlies te bepaal en daarvolgens aanbevelings te maak vir die mees geskikte behandelingsopsie vir jou persoonlike behoeftes.

Hulle beskik oor ’n wye reeks gehoorapparate en -modelle, en spesialiseer in die diens en herstel daarvan. Verder bied hulle batterye, gehoorbeskerming en swemproppe, en help ook met die bestuur van tinnitus, gehoorrehabilitasie asook die pas en sorg van gehoortoestelle.

Hulle verstaan gehoor, maak dus nou jou afspraak by Sylvia Richards by WestCoastHearing in Vredenburg. Vir meer inligting, skakel gerus 022 713 4996 of stuur e-pos na admin@westcoasthearing.co.za.

Carien de Jager Oudiologie

Carien de Jager Oudiologie

Carien de Jager Oudiologie is ’n plattelandse praktyk waar die verhouding met die pasiënt nog die belangrikste is. Die gehooroplossings wat hier aangebied word, is op die persoon se behoeftes gefokus wat die aard van die gehoorverlies, die stilering van die gehoorapparaat en ook die begroting van die pasiënt in ag neem. Carien de Jager Oudiologie bedien die groter Breëriviervallei en omliggende gebiede, en lewer ook ’n diens aan verafgeleë pasiënte. 

Love Hearing

Love Hearing

By Love Hearing glo hulle dat goeie gehoor noodsaaklik is vir jou welstand. Navorsing toon dat behandeling van gehoorverlies kan bydra tot sterker sosio-emosionele konneksies, kognitiewe fiksheid sowel as fisiese gesondheid (Vercammen et al., 2020). By Love Hearing streef hulle daarna om alle kliënte te bemagtig om deel te wees van die gesprek. Kontak Love Hearing om die wonder van klank te herontdek. Vir afsprake skakel 065 526 4937.

Rand - Dollar
17.18
-0.5%
Rand - Pond
20.52
+1.0%
Rand - Euro
17.75
+0.4%
Rand - Aus dollar
11.42
+1.1%
Rand - Jen
0.12
-0.4%
Goud
1,741.66
-0.9%
Silwer
20.95
-2.4%
Palladium
1,843.00
-0.7%
Platinum
991.50
+0.8%
Brent-ruolie
83.63
-2.0%
Top-40
66,994
+0.4%
Alle aandele
73,368
+0.3%
Hulpbronne 10
70,795
-0.9%
Industriële 25
88,376
+1.2%
Finansiële 15
16,389
+0.1%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos