Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie het 422 miljoen mense wêreldwyd diabetes. Hoewel diabetesdiagnoses toegeneem het oor die jare, kan ’n kombinasie van faktore, onder meer ’n gesonde dieet en oefening, pasiënte se algehele gesondheid verbeter.
Diabetes is ’n toestand waar die liggaam sy vermoë verloor om normale bloedsuikervlakke te handhaaf. “Die bloedsuikervlakke in die liggaam word beheer deur die hormoon insulien wat deur die pankreas afgeskei word,” sê dr. Attie Stadler, algemene praktisyn in Somerset-Wes.
“Diabetes kan ontstaan weens ’n tekort aan insulien, wanneer die liggaam nie genoeg insulien produseer nie. Dit staan bekend as tipe 1-diabetes. Diabetes kan ook ontstaan wanneer die selle in die liggaam nie soos normaalweg op die insulien wat wel beskikbaar is, reageer nie.”