Dis deesdae nie meer vreemd om selfs grootmense met draadjies in hul mond te sien nie. Ortodonsie verseker nie net reguit tande vir ’n mooi glimlag nie, maar kan ook ander tandverwante probleme regstel.
Dr. André de Villiers, ’n ortodontis in Dieprivier, sê die algemeenste ortodonsie-apparaat waarmee die meeste mense vertroud is, is vaste metaaldraadjies.
“Elke aanhegting word op die tand gesementeer, wat eintlik die handvatsels is waarmee die ortodontis elke tand kan manipuleer. ’n Meer kosmetiese, vaste ortodonsie-apparaat bestaan uit ’n keramiekaanhegting. Deesdae is die metaaldraadjie met ’n wit lagie bedek om dit selfs meer kosmeties te maak. Die koste van die keramiekaanhegtings kom met ’n kostepremie, wat met metaalaanhegtings gekombineer kan word om bykomende koste te beperk. Die keramiek- aanhegtings is veral gewild by volwasse pasiënte, maar is nie net tot volwassenes beperk nie.