Versterk só jou immuunstelsel

akkreditasie

Immuunversterkers kan jou help om siektes te beveg. Danielle Daniëls het meer by kenners gaan uitvind oor wat dit alles behels.

’n Swak immuunstelsel maak dit vir jou liggaam baie moeilik om teen siektes te kan veg. Dit is veral nou belangrik om te sorg dat jy jou immuunstelsel versterk om jou ’n beter kans teen Covid-19 en meer algemene wintersiektes soos griep te gee.

Voldoende vitamien C-inname kan help om verkoue- en griepsimptome se duur te verkort. Dit is egter belangrik om die regte hoeveelheid in te kry. Foto: iStock

Belangrikheid van sterk immuunstelsel

Dr. Christa North van Geneway, ’n onderneming wat in deoksiribonukleïensuur (DNS)-toetse spesialiseer, sê die liggaam se natuurlike verdedigingsmeganisme is bekend as die immuunstelsel.

“Die funksie van die immuunstelsel is om die voorkoms van siektes en infeksie te verhoed of te verminder. Met ’n ingeperkte immuunstelsel gaan jy makliker en ‘erger’ siek word.”

Ramona Meiburg, uitvoerende hoof en stigter van Vitalium®, het ’n MBA en ’n agtergrond in die mediese en farmaseutiese bedryf. Sy verduidelik die basis van ’n “ingeperkte immuunstelsel” in teenstelling met wat algemeen geglo word, is volledige proteïen-inname van hoëgehalte-aminosure en die biobeskikbaarheid van aminosure in die bloedstroom, die belangrikste vereiste vir ’n sterk immuunstelsel.

“Navorsing toon dat verminderde biobeskikbaarheid van aminosure die immuunfunksie benadeel. Spesiale sorg moet geneem word om die optimale balans van aminosure te verkry om wanbalans en antagonisme te voorkom. ’n Goed gebalanseerde, biologies beskikbare bron van aminosure is noodsaaklik vir die immuunstelsel en gesondheidsontwikkeling.”

Ramona sê daar is baie proteïenbronne, maar nie almal bevat al 20 aminosure wat jou liggaam benodig nie, en daarom is almal nie “volledige” proteïene nie.

As jy baie gereelde spysverteringstelselprobleme het (byvoorbeeld gereelde opgeblasenheid, diarree of hardlywigheid), kan dit ’n teken wees dat jou immuunstelsel ingeperk is.
Dr. Christa North

“As jy proteïene uit jou dieet verteer, byvoorbeeld beesvleis, vark, hoender of eiers, breek jy dit af na individuele aminosure en absorbeer dit, maar dit word verbind met stikstofbindings wat uit jou liggaam verwyder is – dit verminder die biobeskikbaarheid daarvan en verhoog die kans dat dit deur die lewer geoksideer word en in energie omgeskakel sal word.”

As jy proteïene verteer, is die energiekoste so hoog dat 20% tot 30% van die geabsorbeerde aminosure vernietig word en omgeskakel word in energie om dit wat verlore gegaan het, aan te vul, verduidelik Ramona.

“ ’n Baie klein deel word geabsorbeer as klein peptiede wat hul stikstofbindings behou – dit word as ‘biobeskikbaar’ beskou, wat beteken dat jou liggaam dit kan gebruik om die funksie en struktuur van die aminosuur gebaseer op jou liggaam te laat groei en herstel.

“Hoe meer biobeskikbaar en hoe vollediger jou proteïen-inname is, hoe beter is die gehalte van proteïene en hoe groter word die verskuiwing na groei en herstel (anabolisme). As daar nie aan hierdie voorwaardes voldoen word nie, dan ly die funksionaliteit van jou liggaam daaronder, jy verouder, word siek of ontwikkel siektetoestande (katabolisme). Jou immuunstelsel is die eerste ding wat ly, daarom is die eerste verdedigingslyn eintlik jou dieet en die gehalte van jou proteïenbronne.”

Ramona sê as daar ’n hoë biobeskikbaarheid van al 20 aminosure in jou liggaam is, verander jou liggaam na ’n toestand wat groei en herstel, en hernuwe die funksies en strukture in jou liggaam.

“Dit is die beginpunt van die opbou van jou immuunstelsel en die verbetering van algemene gesondheid. As jy nie jou liggaam in ’n groeitoestand kry nie, voer jy ’n verlore stryd.”

Dr. North sê indien dit voel asof jy altyd verkoue het, is dit beslis ’n teken van ’n swak immuunstelsel.

“As jy baie gereelde spysverteringstelselprobleme het (byvoorbeeld gereelde opgeblasenheid, diarree of hardlywigheid), kan dit ’n teken wees dat jou immuunstelsel ingeperk is. Navorsing is duidelik daaroor dat byna 70% van jou immuunstelsel beheer word deur jou gastro-intestinale stelsel (dermkanaal).

“Ook as wonde, byvoorbeeld skraapwonde of snye in jou vel, lank neem om gesond te word, is dit ’n teken dat jou immuunstelsel verswak is. Jou liggaam help om wonde te genees deur immuunselle en voedingryke bloed na die beskadigde vel te stuur. As jou immuunstelsel onderdruk is, sal dit baie langer neem om gesond te word.”

Dr. North meen ook wanneer jy altyd moeg voel ten spyte van genoeg slaap, is dit tyd om na jou immuunstelsel te kyk.

“As jou immuunvlakke laag is, sal jou energievlakke ook laag wees.”

Wat is immuunversterkers?

Claudine Ryan, ’n geregistreerde dieetkundige in Durbanville, meen jou immuunstelsel bestaan uit organe, selle, weefsels en proteïene.

“Jou immuunstelsel se werk is om infeksies of beserings te herken en te identifiseer sodat ’n immuunrespons gevorm word wat normaliteit teweeg kan bring. Simptome soos koors of ’n loopneus is tekens van jou immuunrespons wat veg teen ’n virus of infeksie, en wys dat jou immuunstelsel werk.

“ ’n Gebalanseerde immuunrespons is belangrik. Jy wil nie ’n oormatige reaksie of lae respons hê nie. Die term ‘immuunversterker’ is dus misleidend en wetenskaplik onakkuraat.”

Daar is verskeie faktore wat kan lei tot ’n abnormale immuunrespons, byvoorbeeld sekere toestande soos diabetes, vigs en vetsug, en leefstylfaktore soos ’n swak dieet, stres, min slaap en oormatige alkoholgebruik, sê Ryan.

“Sekere aanvullings kan dus help om ‘gate’ te vul wanneer jy nie ’n verskeidenheid voedingstowwe deur jou dieet inneem nie of wanneer jy tekorte het.

“Maar om byvoorbeeld megadosisse vitamien C te drink, gaan nie jou immuunstelsel versterk nie – dit is die balans van jou hele dieet en verskeie voedingstowwe wat nodig is om sinergisties saam te werk. Dit is dus gevaarlik om aan te beveel dat almal sekere aanvullings moet inneem omdat elke mens se dieet en omstandighede verskil. ’n Dieetkundige kan jou help om te bepaal watter voedingstowwe in jou dieet laag is.”

Versterk immuunstelsel natuurlik

Volgens dr. North kan jy die volgende stappe doen om jou immuunstelsel op ’n natuurlike manier te versterk:

1. Gebalanseerde en goeie voeding. Een van die belangrikste wenke om jou immuunstelsel te versterk, is om te verseker dat jou dieet noodsaaklike vitamine, minerale en antioksidante bevat.

Vitamien D is belangrik vir die werking van twee soorte limfosiete in die immuunstelsel, naamlik T- en B-selle. T-selle identifiseer patogene en B-selle is verantwoordelik daarvoor om spesifieke teenliggaampies te vervaardig. Toets jou vitamien D-vlakke en omega 3-vetsuur, wat gevind word in vetterige vis, want dit is noodsaaklik vir die aktivering van T-selle.

Gebruik probiotika – neem gereeld jogurt en veselryke kosse soos groente in om te sorg vir genoeg probiotiese organismes in die spysverteringstelsel, andersins moet jy ’n aanvulling gebruik wat jou immuniteit sal versterk, sê dr. North.

2. Slaap genoeg. Slaap versterk jou natuurlike immuniteit. Gehalteslaap van sewe tot agt uur per nag is belangrik vir ’n gesonde immuunstelsel. Wanneer jy siek is, is jy geneig om meer te slaap, want dit gee jou immuunstelsel kans om jou liggaam se vyande te beveg.

3. Ligte oefening. Gereelde ligte oefening soos ’n drafstap, draf, swem of fietsry kan jou immuunstelsel ’n hupstoot gee.

Maar voortdurende en intense oefening gaan heel waarskynlik jou immuunstelsel onderdruk.

4. Neem genoeg vloeistof in. Dehidrasie sal noodsaaklike liggaamsfunksies inperk en jou meer vatbaar vir siektes maak. Genoeg gesonde vloeistof soos water op ’n daaglikse basis is noodsaaklik vir optimale immuunfunksie.

5. Moenie rook nie. Buiten al die gesondheidsgevare wat rook inhou, verswak nikotien ook jou immuunstelsel.

6. Beheer jou stresvlakke. Wanneer jy onder voortdurende stres is, is jou immuunstelsel se vermoë om virusse af te weer, minder en is jy meer geneig om infeksies te kry.

Jou immuunstelsel, Covid-19 en winterverkoues

Verwyder die raaiwerk en doen ’n DNS-toets, meen dr. North.

“Nie almal wat in kontak kom met ’n virus, soos Covid-19, word (baie) siek nie. Een van die redes dat Covid-19 die verbeelding van wetenskaplikes oor die wêreld heen aangegryp het, is dat almal verskillend daarop reageer, en ’n groot deel van die antwoord is opgesluit in jou genetika. ’n Nuwe DNS-toets genaamd Gene-Immune toets vir 30 gene wat spesifiek verskillende dele van jou immuunstelsel affekteer.

“Die verslag wat in ’n laboratorium gegenereer word, is gegrond op jou genetiese resultate en wys in detail hoe om jou eie genetiese tekortkominge te bowe te kom, insluitende watter voedingstowwe jy meer van moet inkry, of selfs minder van, om enige gevare te minimaliseer en jou herstel te optimaliseer, sou jy ’n infeksie opdoen,” verduidelik dr. North.

Voedingstowwe om jou immuunstelsel te versterk

Ryan meen jy kan hierdie voedingstowwe inneem:

  • Probiotika. Gesonde dermflora kan jou immuunstelsel help onderskei tussen normale en skadelike indringer-organismes. Jy kan dit maklik in jou dieet insluit deur gereeld jogurt, kimchi, suurkool en kefir in te neem. Indien jy hierdie kosse nie gereeld eet nie, mag ’n probiotika-aanvulling van tyd tot tyd voordelig wees.
  • Vitamien C. Voldoende vitamien C-inname kan help om verkoue- en griepsimptome se duur met tot 8% te verkort. Vitamien C is ook belangrik vir jou immuunstelsel se werking, en jy benodig 90 mg daarvan per dag. Indien jy nie vitamien C-ryke vrugte en groente eet nie, sal jy baat vind by vitamien C-aanvullings. Kies een wat ongeveer 100% van die daaglikse aanbevole dosis verskaf.
  • Sink. Sommige studies toon dat sink jou verkouesimptome met 33% kan verkort. Sink versterk die immuunstelsel van veral ouer persone, en verminder oksidatiewe stres. Mans benodig ongeveer 11 mg en vroue ongeveer 8 mg sink per dag, wat maklik bekombaar is deur gereeld vleis, hoender, vis, melk, kaas en grane in te neem. Indien jy hierdie kosse nie eet nie, kan ’n sinkaanvulling gebruik word – maar kies ’n aanvulling wat nie meer as 40 mg sink per dag verskaf nie.
  • Knoffel. Knoffel kan ook jou verkouesimptome verkort en verlig en jou immuunstelsel ondersteun. Neem twee tot drie knoffelhuisies per dag, en druk dit fyn. Laat dit vir tien minute staan voordat jy dit by jou kos voeg om gaar te maak of gebruik dit rou. Jy kan daagliks ’n knoffelaanvulling gebruik wat 600 mg tot 1 200 mg per dag verskaf.

Vermy dié aanvullings

“As dit by aanvullings kom, is meer nie beter nie. Megadossise van mikrovoedingstowwe kan toksies wees. Groot dosisse vitamien C kan lei tot nierstene en ysteroorlading en oormatige vitamien E kan orgaanskade veroorsaak.

“Wees bewus van die hoeveelhede wat jou aanvulling bevat en moenie die aanbevole dosis oorskry nie.

“Indien jy steeds ’n aanvulling gebruik wat megadosisse bevat, moet dit beslis nie oor die langtermyn gebruik word nie,” gee Ryan raad.


GEBORG

Vitalium®

Vitalium

Vitalium® is ’n 100% natuurlike volgende-generasie-voedingsmiddel (nutraceutical). Dit bevat ’n unieke en volledige aminosuurformulering van polipeptied, ondersteun bykans alle funksies in jou liggaam en verskaf die nodige basiese voedingsbasis in ’n unieke struktuur en vorm wat ’n anaboliese (groei, herontwikkeling en herstel) toestand in die liggaam bevorder.

Die blad is betaal en die inhoud verskaf deur die adverteerder. Netwerk24 aanvaar geen aanspreeklikheid vir die geadverteerde dienste of produkte nie.


Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
16.27
-1.9%
Rand - Pond
21.71
-0.0%
Rand - Euro
18.42
+0.1%
Rand - Aus dollar
11.59
+0.0%
Rand - Jen
0.14
+0.2%
Goud
1,792.60
0.0%
Silwer
23.13
0.0%
Palladium
1,751.49
0.0%
Platinum
955.50
0.0%
Brent-ruolie
72.72
-11.6%
Top-40
62,411
-2.6%
Alle aandele
68,615
-2.8%
Hulpbronne 10
64,074
-2.5%
Industriële 25
92,909
-1.3%
Finansiële 15
12,995
-6.8%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos