Om die titel van Mej. Suid-Afrika te wen, is die grootste seën wat God aan haar kon gee, sê Shudufhadzo Musida, die vrou wat Saterdagaand as die nuwe Mej. SA gekroon is.
1. Haar naam beteken “geskenk” in Venda. “My ouma het altyd gesê ek is ’n geskenk van God aan enigiemand met wie ek in aanraking kom,” sê Musida. “Voordat ek Saterdag op die verhoog gegaan het, het my ma my daaraan herinner.” Haar eerste naam is Abigail, en sy geniet dit dat mense na haar verwys as Shudu.
2. Sy kom van Ha-Masia, Limpopo, maar bly tans by haar ma in Randburg in Gauteng. “Ek het gisteraand met my oupa gesels en hy sê die hele gemeenskap was by sy huis om te kyk hoe ek deelneem,” sê sy. “Toe ek wen, het hulle getoet, op vuvuzelas geblaas en feesgevier. Ek dink dit gaan nog steeds aan!”