’n Sesjarige meisietjie het Sondag vergeefs haar pa uit die water probeer trek waar hy glo deur ’n pomp van die swembad in die Aldam-vakansieoord in Ventersburg vasgesuig is. Hy het verdrink.
Zonike Rautenbach het aan haar ma, Luzinda Harmse, gesê sy voel “iets” in die water. Die meisietjie het toe in die water geduik en haar pa, Erik Rautenbach (35), sien vassit.
Die gesin, wat in Riebeeckstad, Welkom, woon, het Sondag die vakansieoord besoek en verskeie kere met die waterglybaan afgegly, sê Harmse.