’n Boer was Donderdag so kwaad oor die grondwal oor die R30 in die Allanridge-omgewing dat hy dit platgery het sodat sy voertuie daaroor kan kom.
’n Deel van hierdie pad is ná swaar reën nou al sowat ’n maand lank onder water, maar padgebruikers kon dit tot Donderdag nog gebruik toe die Vrystaatse departement van paaie uit die bloute ’n grondwal dwarsoor die pad gegooi het.
Rudi van Vuuren, veiligheidsverteenwoordiger van Vrystaat Landbou (VL) in die gebied, sê harde woorde het geval toe dié boer hom vererg.