Toe die bielie van ’n slot Shane Kirkwood (32) in 2021 sy kontrak met sy Franse klubspan Bourgoin beëindig het om hom by die Pumas aan te sluit, het hy nooit gedink hy sal dié span van Mbombela in ’n Curriebeker-eindstryd verteenwoordig nie.
Sy lewensdroom gaan nou verwesenlik word wanneer die Pumas en die Griekwas Saterdag in Kimberley teen mekaar speel om te beslis wie sjampanje uit die gesogte goue beker gaan drink.
“Ná twee jaar by Bourgoin het ek my kontrak, wat in 2024 sou verval, beëindig om vir die Pumas te kom speel. My doelwit was om speeltyd te kry en om ’n verskil in die span te maak. Ek het nooit gedink ek sou in ’n Curriebeker-eindstryd opeindig nie.