Gesinne wat die ou Woodstock-hospitaal nou reeds vir jare beset en woonstelle daar ingerig het, het groot skade gely toe ’n brand Donderdagaand ’n deel van die gebou verwoes het.
Die gebouekompleks moes ontruim word, maar niemand is in die brand beseer nie.
Jermaine Carelse, woordvoerder van die Kaapstad-metro se brandweer, sê daar is om 18:53 alarm gemaak oor die gebou wat brand. Brandbestryders van Soutrivier, Roelandstraat en Epping het na die toneel gegaan.