Werkers van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het Saterdagaand op naalde en spelde gewag om te hoor of die ANC se nasionale uitvoerende komitee instem dat die regering R2 miljard gee vir die lugdiens soos die regering vroeër belowe het.
In ’n ommeswaai van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, se voorneme begin Desember dat die regering kontant sou bewillig vir die sakereddingsproses het die tesourie die afgelope week volstrek geweier om hom te verbind tot ’n kontantinspuiting.
Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, het Saterdagaand aan Rapport gesê hulle is meegedeel dat die kontantinspuiting al dan nie afhang van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK).