Danksy ’n drukkery in Londen se afleiding in die laat 1800’s dat “Orange Free State” na lemoene eerder as na die Nederlandse prins Willem die Vyfde van Oranje verwys, gaan baie inwoners van die Yadé-huise in Bloemfontein hierdie winter aan byna 300 lemoene kan smul.
“Hierdie taalkundige mistasting, wat met die druk van die eerste amptelike seëls van die Republiek van die Oranje-Vrystaat gebeur het, het die drukkery laat besluit dat die vryheidsboom op die wapen ’n lemoenboom moet wees om die ‘orange’ in ‘Orange Free State’ te simboliseer en hulle het op eie inisiatief ’n paar lemoene op die boom gevoeg,” sê Amanda Groenewald, die eerste museumgeesteswetenskaplike: versamelingbestuur by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) in die Rosestad.
Wintertyd lees Annelien Diedericks, museum-geesteswetenskaplike van Naln, die gedig “Lied van die lemoen” van Uys Krige aan besoekers wat op letterkundige toere die museum besoek, en gee daarna vir hulle die geleentheid om van die vrugte te pluk. “Baie mense het nog nooit die voorreg gehad om ’n vrug van ’n boom te pluk nie.”