Die familie van die staatsadvokaat Addelaid Ferreira-Watt sê hulle gaan ’n private ondersoek laat doen na die raaiselagtige omstandighede waaronder sy dood is.
Dit is Woensdag ’n maand sedert sy in die hof in Umzimkhulu in KwaZulu-Natal met ’n haelgeweer, ’n bewysstuk in die saak waaraan sy gewerk het, geskiet is.
“As dit een van ons was wat geskiet is, sou sy dit nie net so gelaat het nie. Sy sou wou weet wat aangaan en ons is dit aan haar verskuldig om dieselfde te doen,” sê Ferreira-Watt se suster Karin Stander.