Nadat ’n Duitse toeris Maandag op die Numbi-hek-pad in Mpumalanga in sy motor doodgeskiet is, doen Sanparke ’n dringende beroep op toeriste om eerder ander toegangshekke na die Krugerwildtuin te gebruik.
Jörg Schnarr (67), sy vrou, Vera, en twee vriende, Reiner en Andrea Nüchter, was na die Mdluli-safari-lodge op pad toe hulle omstreeks 16:30 deur drie gewapende mans voorgekeer en beveel is om hul motordeure oop te maak. Toe Jörg die deure sluit, is hy deur die ruit geskiet.
Die aanval op die toeriste het wyd opslae gemaak en heftige reaksie uitgelok, veral toe Lindiwe Sisulu, minister van toerisme, Woensdag gesê het Suid-Afrika is veilig omdat slegs drie toeriste sedert die aanbreek van die demokrasie in die land dood is.