Dr. Frene Ginwala was in haar later jare baie ongelukkig en krities oor die verval in die leierskap van die ANC.
So het haar susterskind Zavereh Rustomjee Dinsdag op haar amptelike gedenkdiens in Johannesburg gesê. Rustomjee sê Ginwala was ook ongelukkig oor die vernietiging van instellings wat met groot opoffering en harde werk tot stand gebring is.
“Sy het haar hartseer en berou uitgespreek oor die mate waartoe dit talle instellings en die samelewing deurdring het. Ten spyte hiervan was sy hoopvol dat met die omkeer van die vernietiging die volgende generasie die oorspronklike ideale gestand sal doen en sal herbou.”