Die legendariese Afrikaanse skrywer Elsa Joubert (97), wat Sondagmiddag in Kaapstad aan Covid-19 dood is, was 'n groot gees. So het Christiaan Olwagen, regisseur van die rolprent Poppie Nongena, wat gegrond is op Joubert se boek Die swerfjare van Poppie Nongena, Sondagaand gesê. “Sy was ’n ongelooflike mens."
Nico Steytler, haar seun, sê sy ma is omstreeks 15:00 Sondagmiddag in die Mediclinic Kaapstad dood. Hy het bevestig dat sy aan die gevreesde Covid-19-virussiekte dood is.
Joubert was ’n inwoner van die Berghof-aftreeoord in Tuine, Kaapstad. Sy het sedert 1998 daar gewoon nadat haar man, Klaas Steytler, dood is. Steytler was ook 'n skrywer en oudredakteur van Huisgenoot.